Met die 74ste Algemene Kerkvergadering (AKV) se besluit om die Algemene Diakensvergadering (ADV) formeel deel van die AKV te maak, het daar ’n nuwe diakonale reis in die NHKA begin. Waar die diakonaat tot voor die 74ste AKV selfstandig gefunksioneer het, gaan die werksaamhede van die diakonaat in die toekoms deel vorm van die AKV se werksaamhede. Gesien die veranderende omgewing waarin ons ons bevind, is die diakonale reis ’n uitdagende reis. Prof Johan Buitendag het in 2009 geskryf van die triangulasie en verwys na die beginsel waar daar beweeg word van oriëntasie na disoriëntasie na heroriëntasie. Dit kom daarop neer dat daar beweeg word van die bekende na die onbekende en dan word ’n nuwe bekende gevind. Die diakonale reis ná die 74ste AKV is so ’n reis na ’n nuwe bekende.

Die onbekendheid van die reis is nie as gevolg van die NHKA nie, maar as gevolg van die baie veranderlikes waarmee ons daagliks gekonfronteer word. Van dié veranderlikes is die demografiese veranderings en sekularisasie seker die bekendste. Die verandering op die platteland lei tot kleinerwordende gemeentes terwyl die groterwordende nood in die gemeenskap tot sosiale uitdagings lei. In die stede is daar talle gemeentes op mekaar se voorstoep wat in sommige gevalle moet saamsmelt omdat die demografiese veranderinge dit vereis.

Dit alles het ’n geweldig invloed op die diakonale reis van die kerk wat lei tot ’n tydelike disoriëntasie maar met ’n soeke na nuwe moontlikhede. Wanneer die dissipels in Matteus 14 by Jesus kom en vir Hom vra om die skare weg te stuur sodat hulle vir hulself kan gaan brood koop om hul honger te stil, is Jesus se opdrag dat die dissipels vir die skare iets moet gee. Die dissipels se onsekerheid en disoriëntasie word ’n heroriëntasie met die wonderwerk as Christus die skare voed. Die opdrag aan die dissipels is ook die opdrag aan ons. Ons moet dit wat ons het, met diegene in nood deel. Ons moet in gehoorsaamheid en met ’n vaste vertroue ons diakonale roeping uitleef.

Die diakonale reis se vaste punt is God Drie-eenheid. Ons word gestuur om die liefde van Christus aan die wêreld sigbaar te maak. Op hierdie reis word ons gekonfronteer met rampe, sekularisasie, politieke veranderinge, bek-en-klouseer, werkloosheid, die verval van infrastruktuur en demografiese veranderinge. Die onbekendheid is deel van ons lewe.

Die nuwe diakonale reis vra geloof en gehoorsaamheid. Mag die vrede van Christus deur ons vloei en mag ons troos en hoop bring.

Ons wil elkeen vra om deel te word van die nuwe diakonale reis. Gee u insette en help ons om met ’n nuwe ywer ’n verskil te maak.