Prof Rudy Denton van die Potchefstroom-Studentegemeente is met ingang van 1 Februarie 2024 by die Noordwes-Universiteit aangestel as medeprofessor in Praktiese Teologie en Missiologie. Hy behou steeds ampsvoorreg as predikant van die Kerk, en dien steeds as addisionele predikantslid van die Kommissie van die AKV. Die Potchefstroom-Studentegemeente het op Sondag 25 Februarie afskeid geneem van prof Rudy en sy vrou, Terzie. (Sien volgende uitgawe vir ’n verdere berig.)
Dr Antionette Janse van Rensburg van Montana is pas deeltyds vir die duur van 2024 aangestel in ’n pos in die Departement Sistematiese en Historiese Teologie van die Fakulteit Teologie aan UP. Sy sit haar werk as deeltydse predikant van Gemeente Montana voort. Dr Antionette laat weet soos volg: “Dit is vir my ’n voorreg om hierdie jaar by die Universiteit van Pretoria te kan klas aanbied; ek sien baie uit daarna om ’n pad saam met die studente te stap. Die modules wat ek gaan aanbied, is eerste semester Church and Community vir die derdejaars, en tweede semester History of Theology vir die tweedejaars. Die jaarvak wat aangebied sal word, is Geskiedenis, Kerkreg en Kerklike Praktyk van die NHKA vir die vyfdejaar NHKA-studente. Ek wil graag baie dankie sê vir al die ondersteuning op hierdie reis!”
