Dit is voorwaar ’n eer wat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, die Raad van Finansies en daardeur die Kerk, aan my en my gesin bewys het. Aan almal wat die afgelope 18 en ’n half jaar my pad gekruis het, baie dankie.

Hierdie toekenning word vandag aan my gemaak, maar glo my dat ek maar net ’n instrument in God se hand was. Sonder sy bystand en die ander mense wat my in die proses gehelp het, sou dit nie moontlik gewees het nie. Om in dieselfde asem genoem te word as ds Stoffel Badenhorst, ds Dries Beukes, adv Joël Fourie, dr Manie Dreyer, dr Wian Kloppers en mnr Kobus Viljoen, is voorwaar ’n baie, baie groot voorreg.

Ek deel dan ook graag die toekenning met die volgende persone:

  • My vrou, Menke, vir die laaste amper 45 jaar, en ons gesin. Soms was daar maar moeilike situasies, maar met sy hulp is ons daardeur.
  • Mnr Kobus Viljoen en Rona Barnard wat albei ’n besondere rol in die Kerk en in my lewe gespeel het: Baie dankie vir dit wat julle vir my beteken het en nog beteken.
  • Ds Stoffel Badenhorst, ds Dries Beukes en ds Colin Hertzog as voorsitters van die Raad van Finansies. Dit was werklik vormende jare. Baie dankie daarvoor.
  • Baie dankie ook aan die lede van die onderskeie Rade van Finansies met wie ek saamgewerk het.
  • Die lede van die onderskeie pensioenfondse met wie ek kon saamwerk en by wie ek ook kon leer.
  • Baie dankie aan al die personeel met wie ek die afgelope 18 en ’n half jaar saamgewerk het by die Sinodale Dienssentrum. Sonder julle sou hierdie toekenning nie moontlik gewees het nie. Ek wil regtig nie hier enige persoon of persone uitsonder nie, want dit sou onregverdig wees teenoor ander wat ek dalk al vergeet het.
  • Baie geluk ook aan dr Wian Kloppers wat die toekenning saam met my ontvang.

Ek het baie om voor dankie te sê en ek wil graag aan Hom al die eer bring vir die geleentheid wat Hy my gebied het om vir die laaste 18 jaar by die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika te kon werk.

Dankie weer eens vir die toekenning.

(Hierdie repliek het verskyn in die glansblad wat tydens die opening van die 72ste AKV beskikbaar was)

af
af
Deel met behulp van
Copy link