Vir my om van die NHKA afskeid te neem, was soos ’n begrafnis. Dit was soos ’n uiters finale groet en ’n wete dat dinge van nou af aan onherroeplik verander het.

Vir soveel jare het niks anders my, my menswees, my persoonlikheid of my lewensdoel gedefinieer behalwe die NHKA nie. Die NHKA het my dagboeke gevul, my kop gevul, my hart gevul, my lewe gevul. Op universiteit het ek bekend gestaan as Elritia, die Hervormer, wat ’n mens laat wonder wat dan van my identiteit oor is sonder die NHKA.

Gevolglik was om van die NHKA afskeid te neem hoegenaamd nie maklik nie. Die besluit het voortgevloei uit maande se oorweging, bepeinsing, gebed en vele gesprekke met diverse individue aan wie se menings ek nog altyd groot waarde geheg het. ’n Gesprek met ’n vriend wat my beste vriend geword het sedert ons mekaar in 2005 in Hebreeus I raakgeloop het, het my verseker dat God se kinders, wat ons familie in Jesus Christus word, ook in ander kerke kan wees. ’n Ander gesprek met hierdie selfde vriend het my ook laat besef dat ’n mens nou maar een maal ’n Hervormer in jou murg is. ’n Mens kan nie jou wese verander nie, net so min as wat jy jou DNS kan verander, ongeag watter denominasie nou jou traktement betaal. Jy kan immers net binne een idioom teologiseer, en dit is die Hervormde idioom.

Hierdie insigte, gepaardgaande met die feit dat die wêreld danksy tegnologie soveel kleiner geword het (en of ons dit wil weet of nie, die inperking het ons geleer hoeveel bedieningsmoontlikhede deur die elektroniese media vir ons moontlik geword het), het dit effens makliker gemaak om te groet.

Op 22 November vanjaar het ek vir die laaste maal die kansel van die Nederduitsch Hervormde Gemeente Middelburg bestyg. Dit was ’n heerlike, luisterryke erediens. Ek het die gemeente baie laat sing, want ek wou vir oulaas al my geliefkoosde liedere uit die Liedboek van die Kerk sing. Uit Romeine 15 het ek oor hoop en onderlinge verdraagsaamheid gepreek. Ek wou my gemeente met ’n boodskap van hoop agterlaat en juis ook die gedagte dat verhoudings nie deur afstand opgehef hoef te word nie. Dr Daan van Wyk (jr), wat destyds my Kuratoriumvoorsitter was en my dus geken het toe ek met groot sterre in my oë en idealisme in my hart begin het om teologie in die NHKA te studeer, het my namens die Kerk bedank. Sy opmerkings het laat blyk dat daar in die hart van die meisie met die groot idealisme ’n tempering gekom het, maar sy het ontwikkel tot ’n volwasse vrou en teoloog met ’n groter realisme oor die kerk.

Uit die boodskap van my ouderling, oudl Willie Scholtz, het opregte liefde en waardering geblyk vir eienskappe en style wat ek baie graag met my wil saamneem, want as dit hier in Middelburg en in die NHKA die koninkryk van God gedien het, is my hoop dat dit ook in die toekoms so sal wees. Want uiteindelik gaan ek weer met God se kinders werk. Ek gaan weer met mense werk wat Sondag vir Sondag dieselfde belydenis as ek opsê. Ek gaan met mense werk wat kerkliedere sing op die melodieë wat ek van kindsbeen ken, hoewel dit in ’n ander taal gaan wees. Waar ek preek, lidmate pastoraal versorg, met die kinders of die jeug werk, huisbesoek of siekebesoek doen, sal dit steeds Elritia die Hervormer wees wat met God se kinders werk. Dit is en bly die hoogste voorreg.

Uiteindelik is my hoop dat ek vanuit Duitsland steeds vir die NHKA en vir God se kinders in ons land iets kan beteken, hetsy as brugbouer of baanbreker. Ek wil graag studiemoontlikhede, uitruilskemas of kerklike samewerking ondersoek, en op daardie manier hoop ek om nog altyd in die NHKA diensbaar te wees.

Ek het die NHKA hartstogtelik lief en soms, soos NP van Wyk Louw gesê het ten opsigte van liefde vir jou volk, het ’n mens die kerk juis lief om sy ellende en nie vanweë sy uitnemendheid en volmaaktheid nie. Ons almal kry seer in die kerk, ons almal moes teleurstellings in die kerk verduur. Soos baie ander mense, het ek ook stories van pyn en was daar tye toe ek woedend en vervreemd gevoel het. Tog is en bly die NHKA altyd my Kerk en vir hierdie Kerk sal ek altyd lief bly.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link