Ek voel doodsbenoud!
Toe kom hulle by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.”
Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”
Hy het toe ’n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.” (Markus 14: 32-36)
Ek glo Jesus, wat ontvang is
deur die werking van die Gees,
word hier deur die maagd Maria,
waarlik mens van bloed en vlees.
Onder Pontius Pilatus
het Hy smart en pyn gely;
is gekruisig en begrawe –
só maak Hy van sonde vry.
Op die derde dag het Jesus
uit die dood uit opgestaan,
deur sy sterwe en sy lewe
dood en graf en hel verslaan.
Na die hoogste hemel het Hy
tot die Vader opgevaar;
aan Gods regterhand in ere,
voer Hy heerskappy van daar.
Ek glo met my hele wese
in die Heil’ge Gees as Heer,
wat sy kerk met al sy lede
troos en deur die Woord regeer.
Hy skenk my sy krag en leiding
dat ek hier die goeie stryd
in sy Naam begin en eindig
met geloofsblymoedigheid.
(Attie van der Colf,
Gesang 260: 3, 4 en 6, Liedboek van die Kerk)