Ek wil die Here loof
Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk. Die Here laat geregtigheid en reg geskied aan almal wat verdruk word. Aan Moses het Hy sy wil bekend gemaak, aan Israel wat Hy van plan was om te doen. Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. (Psalm 103: 1-8)
God wil ek loof met alles wat in my is,
ek wil Hom prys omdat Hy goed vir my is.
Ek sal sy goedheid altyd bly onthou.
Hom wil ek prys vir al sy goeie dade –
Hy wat vergifnis skenk deur sy genade.
Sy Naam is heilig en Hy is getrou.
Hy bied teen dood en siekte my beskerming
en kroon my met sy liefde en ontferming;
van dit wat my bedreig, maak Hy my vry;
Hy gee vir my die goeie so oorvloedig;
in alles maak die Here my voorspoedig,
en jeugdig soos ’n arend maak Hy my.
(TT Cloete,
Psalm 103: 1-2, Liedboek van die Kerk)