Jesus lééf!
Teen dagbreek, op die eerste dag van die week, het hulle na die graf gegaan met die geurige speserye wat hulle voorberei het. Hulle ontdek toe dat die klip van die graf weggerol was; en toe hulle ingaan, het hulle die Here Jesus se liggaam nie gekry nie. Hulle was verward hieroor, maar skielik het daar twee mans met glansende klere by hulle gestaan. Hulle was verskrik en het hulle gesigte na die grond toe gedraai, en die mans het vir hulle gesê: “Waarom soek julle die lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar is opgewek! Onthou wat Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galilea was, ‘Die Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.’ ” Hulle het toe sy woorde onthou en van die graf af teruggedraai, en al hierdie dinge aan die elf en al die ander gaan vertel. (Lukas 24: 1-9, AFR2020)
Ons juig weer oor ’n leë graf,
’n steen wat weggerol is,
u heerlikheid, triomf en krag
waarvan die aarde vol is!
O seën hierdie Paasfeestyd.
U het verrys met majesteit,
o Koning van die lewe.
Die engele het daar verskyn;
vertel van al u werke.
Die vroue haas hul van die tuin,
hul vreugde ken geen perke.
Die Heer het waarlik opgestaan
en Hy het ons vooruit gegaan.
Loof Hom, die Heer, die Sterke!
(Izak de Villiers,
Gesang 404: 1-2, Liedboek van die Kerk)
