Ek was bevoorreg aan die begin van Junie vanjaar om by my ouboet, wat al amper 30 jaar in Engeland bly, te gaan kuier. Hy bly in ’n klein dorpie, Collingham, in Noord-Yorkshire. Sy huis is reg langs ’n pragtige klein kerk, die kerkgebou van die St Oswald’s Parish Church wat deel is van die Anglikaanse Kerk.
St Oswald’s het ’n ryke geskiedenis en bestaan al vir meer as 1 400 jaar. Dele van die huidige kerkgebou is in die 12de eeu opgerig. Met die verloop van jare is verskeie aanbouings aangebring en die laaste groot bouwerk het in 1840-1841 plaasgevind. In 1906 is drie van die klokke, wat dateer uit 1650, 1679 en 1731, vervang omdat hulle erg verweer het van die luiery oor die jare. Die kerkgebou het die mooiste gebrandskilderde vensters en word baie goed onderhou.
St Oswald’s het een van die meer as 5 000 kloktorings in Engeland waar klokke wisselend en met die hand gelui word. In die res van die wêreld is daar minder as 300 sulke kloktorings. Die kloktorings is meestal vierkantig en bestaan uit ’n klokkamer aan die bopunt van die toring waarin die klokke hang en ’n vertrek aan die onderpunt van die toring waarin die beiaardiers (klokkespelers) staan om die klokke te lui. Die klokkamer het gewoonlik hortjiesruite (Afrikaans vir louvres, volgens my woordeboek!) in elke sy om die klank van die klokke uit te dra.
Kloktorings kan tot 16 klokke huisves, maar die meeste torings het tussen ses en agt klokke. Die kleinste klok word die sopraanklok genoem en die grootste, wat die diepste noot weergee, die tenoorklok. ’n Gemiddelde tenoorklok weeg by die 500 kg, maar kan tot 4 200 kg weeg. Die klokke word binne ’n hout- of staalraam gehang en is vas aan ’n wiel. Die klokke draai om die middelpunt van die wiel. ’n Spesiale eienskap van klokke in Engeland is dat elke klok ’n stut (stay) het wat maak dat die klok onderstebo tot stilstand kom. Die beiaardiers lui aan die begin “die klokke op” totdat hulle onderstebo tot stilstand kom. Van dié onderstebo-posisie kan die oomblik wanneer die klepper die rand van die klok tref en die klok lui, beter beheer word.
Die beiaardiers staan in ’n sirkel en kyk na mekaar. Elkeen het ’n tou wat getrek word om die klok te lui. Een van die beiaardiers roep die volgorde waarin die klokke gelui word uit, byvoorbeeld 1, 3, 4, 2, 6, 5 om so ’n spesifieke melodie te lui.
Dit verg groot konsentrasie om die klokke so te lui dat die deuntjie wat die klokke maak, reg klink en reg herhaal word. Die klok lui nie dadelik as die beiaardier die tou trek nie, maar eers wanneer die klepel die klok tref nadat die klok ’n volle sirkel gemaak het. Dié metode van klokke lui word full-circle ringing genoem en om dit reg te kry, oefen die beiaardiers een keer ’n week vir omtrent ’n uur. My ouboet is deel van St Oswald’s se span beiaardiers. Hulle lui Sondae die klokke en ook met spesiale geleenthede.
Op Donderdag 8 September 2022 het klokke dwarsoor Engeland gelui ter nagedagtenis van koningin Elizabeth II wat die vorige dag oorlede is. Daar is ’n leersakkie geplaas oor die klepel van die tenoorklok sodat die klok gedemp sou lui. Die klokke lui gedemp slegs wanneer ’n monarg tot sterwe kom. Van elfuur die oggend is die tenoorklok vir ’n uur lank presies op die minuut gelui. Op Saterdag 10 September 2022 het die volle stel klokke ongedemp gelui om die troonbestyging van koning Charles III te vier, terwyl die tenoorklok weer gedemp gelui is op Maandag 19 September 2022 tydens die begrafnis van koningin Elizabeth II. Die gelui van die klokke het nie net in St Oswald’s gebeur nie, maar oral in Engeland.
Die lui van die klokke van ’n kerkgebou maak ook deel uit van die gemeenskapslewe in die dorpies van Engeland. Toe ’n buurman van my broer aan kanker oorlede is, het my broer die tenoorklok vir vyf minute gaan lui ter nagedagtenis van sy buurman en vriend. St Oswald’s het ook, soos baie ander kerke, ’n elektriese meganisme wat elke kwartier die klokke lui en elke uur met ’n aantal klokslae aandui hoe laat dit is. As die beiaardiers na ’n oefensessie vergeet om die meganisme te aktiveer, sal iemand baie gou die plaaslike dominee bel om te kla dat die klok nie gelui het toe dit moes lui nie…
(Ds Etienne Fourie is ’n emerituspredikant van die Kerk
en subredakteur van Die Hervormer)


