Einde Maart 2023 het Gemeente Noordelike Pretoria en Gemeente Wonderboompoort besluit om as twee gemeentes saam te werk nadat Gemeente Noordelike Pretoria hul vaste bates (pastorie en kerkgebou) verkoop het. Hierdie samewerkingsooreenkoms het wonderlik gewerk deurdat eredienste, fondsinsamelingsprojekte en vergaderings saam gehou is.

Vir die erediens van Sondag 2 November 2025 is daar ’n opgewondenheid by dr Robert van Niekerk (Universiteit van Pretoria), ouderlinge Awie Viljoen (Wonderboomboort) en Dewald Jordaan (Noordelike Pretoria) te bespeur. Ná maande van onderhandelinge, gesprekke en die opstel van die samesmeltingsooreenkoms sal die twee gemeentes voortaan deur die wil van die Here amptelik as een gemeente in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) funksioneer. 

Die amptelike ondertekening van die samesmeltingsooreenkoms het voor die erediens en in die teenwoordigheid van die Here en die twee gemeentes in die kerkgebou van Gemeente Wonderboompoort om 09:00 plaasgevind. Die geleentheid is geopen met gebed deur dr Robert van Niekerk waarna die ondertekening plaasgevind het onder die wakende oog van ds Janine-Bevolo Manders namens die AKV en die Ringskommissie van die Ring van Magalies. Die nuutgestigte gemeente sal bekendstaan as die Gemeente Wonderboompoort – ’n tegniese punt in die ooreenkoms wat te make het met SARS, bankrekeninge, eiendomsbesit en dies meer. Gemeente Noordelike Pretoria het dus na 91 jaar as gemeente in die Moot van Pretoria ontbind.

Na die ondertekening van die samewerkingsooreenkoms het dr Van Niekerk uit Matteus 25: 31-46 Die profetiese rede: die laaste oordeel voorgelees en gepreek. Waar die twee gemeentes nou saamgevoeg is, moet die gemeentes ook in die gemeente, die NHKA maar veral in die gemeenskap uit gaan en die mense met die evangelie van Jesus Christus bedien.

Ná die prediking is al die voorafgenomineerde kerkraad van die vorige twee gemeentes na vore geroep om in die verskillende ampte bevestig te word. Ná die bevestiging het die slotgesang en uitspreek van die seën gevolg.

Ná afloop van die erediens het die gemeente weer hul plekke ingeneem waarna ds Janine Bevolo-Manders ’n groeteboodskap en gelukwense aan die gemeente oorgedra het namens die AKV en die Ringskommissie van die Ring van Magalies.

Dr Van Niekerk het ook ’n boodskap van gelukwense van prof Wim Dreyer voorgelees waarin hy die gemeente seën en voorspoed in hul dienswerk toewens, asook ’n boodskap van ds Carel Johann de Bruin namens die SP Engelbrecht-museum wat op die perseel van Gemeente Wonderboompoort geleë is.

Na afloop van die diens en formaliteite is die gemeente en besoekers getrakteer met heerlike koffie en tee asook ’n oorvloed peuselhappies en almal het heerlik saamgekuier.

(Foto: Dr Robert van Niekerk, oudle Dewald Jordaan en Awie Viljoen na die ondertekening)

Gerrit de Vries is ’n oudlidmaat van Gemeente Noordelike Pretoria en is tans lidmaat van Gemeente Rietvallei