Goei-e-mô-re… Mamma… ek bedoel Juffrou? In talle huise wêreldwyd het hierdie woorde elke oggend die besorgde moeders van die nuwe Alfa-generasie begroet.
Talle voornemende mamma-juffrouens het na die eerste paar weke van grendeltyd hul nuwe beroep as tuisblyma en opvoeder van hul briljante spruite met ’n ekstra supermamma-wip-in-die-stap aangepak. Hoe moeilik kan dit nou wees? My kraai is mos ’n kanarie?
Hierdie klaskamerverskuiwing het egter na slegs ’n paar weke van tuisonderrig ons dapper volksmoeders na ’n ekstra blokkie sjokolade, saam met ’n koppie sterk koffie tydens eerste pouse, laat gryp. Het jy rooimiere? Hoe hou die juffrou dit met jou? Nee kyk, ek erken dit. Jóύ juffrou verdien ’n medalje! Hierdie woorde het elke nou en dan al hoe meer in gefrustreerde grendel-huishoudings opgeklink. Die kanarie is toe inderwaarheid ’n kraaitjie en arme Mamma-Juffrou voel skuldig.
Na agt uitmergelende weke van tuisonderrig het Mamma-Juffrou, ook bekend as juffrou Cornona-Mouna, angstig die nuuskanale dopgehou. Minister Angie Motshekga se aankondiging is met gemengde gevoelens aangehoor. Waar sal die arme bloedjies die veiligste wees? By ’n gefrusteerde ek-is-nie-’n-juffrou-nie Corona-Mouna, of gemaskerd terug by die skool tussen moontlike koronakieme?
As ma’s wil ons so graag die superma-titel dra. Ons wíl nie Corona-Mounas wees nie. Ons oumagrootjies het dan bewys dat konsentrasiekampe, ossewaens en kaalvoet oor die Drakensberge hierdie korona-grendeltyd soos ’n kinderpartytjie laat lyk.
Dit is hier waar ons moderne mammas die fout maak. Moeilike omstandighede sal daar altyd wees. Oorloë, pandemies en wêreldkrisisse is deel van ons eeue-oue bestaan. Selfs die konsentrasiekamp-klakouse het die Khaki-epidemie, wat hul kinders se welsyn bedreig het, met geloof en moed aangedurf.
God het aan ons unieke vroulike spesie ’n spesiale mondering gegee. Ondanks die gemor en gekla probeer ons steeds, nes Ouma en Oumagroot, om met durf en geloof ons gesinne veilig te hou. Al dryf Boetatjie Ma teen die mure uit en besef sy elke dag waarom sy nie die onderwysprofessie gekies het nie, is elke Corona-Mouna se gesin veilig in haar daaglikse gebede, waagmoed, durf en daad.
In Jesaja 49: 15 beskryf God sy liefde vir sy kinders deur van ’n moederbeeld gebruik te maak: Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Ook Psalm 131: 2 sê dat ons by God tevredenheid vind soos net ’n kindjie by sy moeder. Hierdie eienskappe van ons troue Vader kan ’n mens net by ’n vrou kry. Soos ’n ma, vergeet God ons nooit nie. Hy troos ons met deernis soos net ’n mammahart kan. Ons word ook soms streng oor die vingers getik.
Aan my mede-Corona-Mounas, waar kan ’n gebroke, bang en hartseer kinderhart die beste getroos word? Nêrens anders nie as teen die moederbors! Net soos ons rus en tevredenheid vind teen God se bors.
Covid-19 het ons superma’s (en pa’s) effe onkant gevang. Ons laat soms die Corona-Mouna-benaming tot volle reg kom as ons die juffrou aan die ander kant van die rekenaarskerm se werk moet help doen en sien dat Juffrou eintlik reg was oor Boeta se dwalende aandag, leesbegrip en woordsomme. Maar een ding sal nooit verander nie. Ons is superma’s in God se nabyheid en krag, en dan alleen kan Corona-Mouna weer plek maak vir Gewone Mamma, die superheldin in elke kind se sprokie.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
Orrelis: Gemeente Welgelegen-Pietersburg