As ’n teologiestudent van ons Kerk het ek die voorreg gehad om op 6 Maart die oggenddiens by Gemeente Philadelphia saam met my medestudente by te woon.
Prof Elsabé Kloppers het aan ons ’n roerende boodskap uit Ester gebring vir die eerste Sondag van die Lydenstyd. Die erediens was vir ons as studente ’n besondere belewenis, aangesien dit ook die afsluiting was van die eerste kontaknaweek soos gereël deur die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) as deel van die Toerusting in Kerklike Bediening (TKB).
Die kontaknaweek van 4 tot 6 Maart 2022 is voorafgegaan deur die opening van die HTK op Vrydag 4 Maart by Philadelphia. Tydens die opening het prof Wim Dreyer ook die nuwe bundel Skrifbeskouing, Kerk en Teologie Volume 1 aan ons bekendgestel. Dit bevat verskeie artikels wat verskyn het in die Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT). Hierdie bundel sal ook handig te pas kom vir navorsing tydens ons teologiese studies, of vir ander wat belangstel in die standpunte van die onderskeie skrywers.

Agter: Dr Wian Kloppers, Peet Bloem, Carien Janeke, Christo Pieterse, Drian Cockeran. Voor: Prof Elsabé Kloppers, Helga du Plessis, Tanya Maartens, Annia van Deventer, Karla Guest, Annami McClintock, Zanedrieka de Lange.
Saterdag 5 Maart het begin met ’n lesing oor Homiletiek aangebied deur prof Elsabé Kloppers. Dit het gehandel oor die rol van musiek in die verryking van die liturgie. Verskeie Psalms en Gesange in die Liedboek is behandel en gesing. Ons het ook weer die tegniek van kanonsang ingeoefen en het dit baie geniet om so as ’n groep saam te sing. Die belangrikheid van die keuse van liedere vir die erediens is by ons ingeskerp.
Na middagete het dr Wian Kloppers aan die woord gekom met ’n lesing oor teks en die struktuur van die teks wat in ag geneem moet word tydens die bestudering daarvan met die oog op prediking.
Hierdie insiggewende kontaknaweek is afgesluit met die erediens die Sondagoggend waartydens ons groep ook van die liedere wat ons geoefen het, in die kerk gesing het.
Peet Bloem