God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. … God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! (Handelinge 2: 32, 33 en 36)
Verlede jaar het talle gemeentes die tema van 20:20-visie in gedagte gehad vir 2020. Met groot opwinding is sekere verwagtinge geskep vir die jaar. Tot Covid-19.
Hierdie jaar het ons versigtig maar Covid-voos begin met die verwagting dat die ergste agter ons is. Tot die tweede en nou derde golf.
Verwagting teenoor realiteit. Wat is jou verwagting van God en hoe lyk jou Godsbeeld?
Ons Godsbeeld bepaal ons menswees. Ons Godsbeeld bepaal ons wêreldbeeld. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te glo. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te hoop. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te doen en bepaal waarvoor ons bereid is om ons lewe te gee, selfs al kos dit ons dood.
Waar jou God groot is, is jy bereid om groot dinge vir Hom te waag. Waar jou God genadig is, is jy bereid om God te gehoorsaam. Waar jou God goed en getrou is, is jy bereid om God vir kos en water te vertrou. Waar jou God vir alles en almal sorg, waar Hy vol liefde en trou is, is jy bereid om in te tree vir die uitdagings wat mense ervaar.
Die omgekeerde is ook waar. Waar jou Godsbeeld vervaag, of jy die verkeerde idee van God begin kry, kan jy eintlik nie anders nie as om vir jouself te begin sorg, om volgens jou eie behoeftes te begin leef. Raak jý die maatstaf vir jou eie lewe en vir dié van ander.
Waar jy met die verkeerde idee van God begin werk, skep jy jou eie gode, leef jy volgens jou eie kode. Begin jy jou eie voordeel soek. Dan lei dit tot uitbuiting, boelies, verkleinering en dat niemand iemand anders iets in die lewe gun nie. As daardie persoon die pos kry, gaan ek nie saam met hulle opgewonde wees nie, ek is ontevrede en bitter, want ek het nie die geleentheid gekry nie.
Verwagting teenoor realiteit. Wat bepaal jou verwagtinge? Mense en hul onrealistiese standaarde vir jou? Situasies wat op jou afstorm sonder enige waarskuwing? ’n Pandemie wat die wêreld tot stilstand ruk? Jyself?
Jou realiteit voel in hierdie stadium dalk ver verwyder van die verwagtinge waarvan jy in die Bybel lees. Die verwagtinge wat geskep word deur oordenkings, Bybelstudies en gesprekke met medegelowiges. So maklik draai ’n gesprek na ’n afpaksessie waar negatiwiteit en teleurstellings bespreek en gedeel word. Waar daar gesê word: Ja, ek weet wat God belowe het, maar…
Daardie maar is baie gevaarlik, want dit verander jou verwagting van God Drie-Enig. Dit bring ’n verwagting dat God nie magtig is vir sekere gedeeltes in jou lewe nie. Jou Godsbeeld vervaag en jy maak staat op jou eie krag.
Hoekom het ons verwagtinge soveel mag oor ons realiteit, maar het God se verwagting wat van die skepping af waar is, soms geen invloed nie? ’n Goddelike verwagting wat telkemale bewys is en waar geword het deur Jesus Christus se koms na die aarde, en bevestig is deur die werk van die Heilige Gees.
Hoe beïnvloed jou realiteit jou verwagting van die Drie-Eenheid? Kan dit enigsins die krag van God Drie-Enig beïnvloed? Jou verwagtinge mag dalk vervaag en verander, en jou realiteit mag deur verskeie seisoene beweeg, maar die verwagting wat God vir jou het en die realiteit dat God Drie-Enig alomteenwoordig in jou doen en late is, is vas en seker. Onwrikbaar. Onveranderlik. Vir altyd.
Jou verwagting vir Julie 2021? Lééf God se verwagting vir jou en wees bewus van hoe God Drie-Enig jou realiteit is.
