Deesdae fassineer mense se uiteenlopende persepsies en verskillende voorkeure my opnuut. Dit laat my dink aan CS Lewis se woorde in die kinderboek The Magician’s Nephew: Wat jy sien en wat jy hoor, hang in ’n groot mate af van waar jy staan. Dit hang ook af van die soort mens wat jy is.

Hoe waar is dit nie! In groter en kleiner letterkundige werke leer ons van die bestaan van goed en kwaad, ook binne elkeen van ons. Soos dié allegorie van Cherokese oorsprong verduidelik:

’n Bejaarde Cherokese Indiaan leer sy kleinseun iets oor die lewe. Hy vertel: Binne my is ’n verskriklike geveg tussen twee wolwe aan die gang. Een van hulle is boos – hy is woede, afguns, smart, spyt, hebsug, arrogansie, selfbejammering, wrewel, minderwaardigheid, leuens, valse trots, meerderwaardigheid en ego. Die ander wolf is goed – hy is vreugde, vrede, liefde, hoop, kalmte, nederigheid, minsaamheid, welwillendheid, empatie, vrygewigheid, waarheid, deernis en geloof. Dieselfde stryd woed in jou – en in elke ander mens.

Die kind dink ’n rukkie, en vra toe: Watter wolf gaan wen?

Die ou man antwoord: Die een wat jy voed.

’n Groot groep mense woon ’n (Hervormde) erediens by. Sommige verlaat die diens met lofuitinge en ’n bemoedigende boodskap; ander is wrewelrig – oor die nie-Hervormde sang, die grappies van die kansel af, die kinders wat nie wil stilsit of stilbly nie…

Ek luister na ’n debat op televisie, en vererg my so vir die gespreksleier dat ek nie enduit kyk nie. ’n Kollega vertel die volgende dag entoesiasties van die lewendige gesprek waarin die deelnemers goed in die bek geruk is deur die fasiliteerder…

Ons plaas ’n teks van ’n jong predikant op die voorblad van ons weeklikse nuusbrief, en tussen die kommentare van waarderende lesers is daar een wat radeloos is oor die swak taalgebruik in die teks…

Dit is alles goed en wel, en ons kan nie altyd van alles hou nie, en ons kan nie almal van dieselfde goed hou nie, maar ons hoef ook nie oor álles ontevrede te wees nie, of hoe?

En hoe gemaak as jy ’n on the other hand-mens is – een wat meestal albei (of alle) kante kan insien? By wie se voorkeure skaar jy jou? Hoe bly jy neutraal – nee, nooit neutraal nie – hoe bly jy ewewigtig in jou denke? Ewewigtig soos die HAT dit verduidelik: ’n persoon wat nie sommer maklik op loop raak nie.

Dan val jy terug op die les wat jy jou dogters van kleintyd af leer: Loop jou eie pad, maak jou eie keuses, bly kalm, luister na als en doen wat jý glo reg is. Foeitog, selfs as jy trou en eensklaps met ’n hele nuwe familie (of twee) sit, wat almal vir jou wil vertel wat jy als verkeerd doen… Bewaar die vrede, beproef alle dinge en behou die goeie.

Maar onthou altyd die fotograaf Ansel Adams se raad: Niemand het die reg om voor te skryf wat ander moet sien, skep of produseer nie, maar almal moet aangemoedig word om hulself te openbaar, hul persepsies en emosies, en vertroue te ontwikkel in die kreatiewe gees.

’n Amerikaanse skrywer van wetenskapfiksie, Philip K Dick, som die kwessie goed op: Miskien leef elke mens in ’n unieke wêreld, ’n private wêreld wat verskil van die wêrelde waarin alle ander mense leef en wat hulle ervaar… Indien die werklikheid van mens tot mens verskil, kan ons wel praat van ’n enkele werklikheid, of behoort ons eerder te praat van meervoudige werklikhede? En as daar meervoudige werklikhede is, is sommige daarvan meer waar (of meer werklik) as die ander? Wat van die wêreld van die skisofreen? Miskien is dit so werklik soos óns wêreld. Dalk kan ons nie sê dat óns in voeling is met die werklikheid en hý nie, en moet ons eerder sê: Sy realiteit is so anders as ons s’n dat hy dit nie aan ons kan verduidelik nie, en ons kan nie ons s’n aan hom verduidelik nie. Die probleem is dan dus dat ás subjektiewe wêrelde té verskillend ervaar word, daar ’n kommunikasiebreuk ontstaan… en dít is die ware siekte.

Kan enigeen ooit die volle waarheid weet? Is enigiemand ooit altyd reg? Nee, natuurlik nie. Die werklikheid is nie eendimensioneel nie, en êrens tussen die verskillende perspektiewe en persepsies lê (of skuil) die waarheid. In die woorde van die skrywer  Shannon L. Alder: Die meeste misverstande in die wêreld kon vermy gewees het as mense bloot sou vra: “Wat ánders kan dit beteken?”

En as ons saam met John Lennon kon bely: Hoe meer ek sien, hoe minder weet ek vir seker.

Want die digter William Blake, in The Marriage of Heaven and Hell, is reg: As die deure van persepsie skoongemaak sou word, sou alles vir die mens gelyk het soos dit is, naamlik Oneindig. Want die mens het homself afgesluit, sodat hy alle dinge sien deur smal skrefies van sy grot.

Vergun my ’n nuwe psalm:

O Skepper van hemel en aarde,

van myself en alle ander mense,

lei my deur die engtes en die ooptes

van nuwe ontmoetinge,

maak my hart en ander se harte

reikend oop,

dat ons mekaar

onsself

en U kan vind

naby

toeganklik

en ewig soos die brekende môre

op elke nuwe dag.

af
af
Deel met behulp van
Copy link