Daar was ’n tyd toe die woord “objektief” graag gebruik is. ’n Mens moet “objektief” na ’n saak kyk en dit “objektief” beoordeel. Dan kan jy op ’n rasionele grondslag bepaal wat die beste optrede of reaksie sal wees. As ons “objektief” vasgestel het wat “die waarheid” oor ’n saak is, kan ons “korrek” optree. Dit klink alles baie netjies, ordelik en eensgesind.

Maar toe werk dit nie so nie. Mense se “objektief” kyk, verskil. Hulle stry oor “die waarheid” en baklei oor hoe opgetree moet word. Dit is alles behalwe netjies, ordelik en eensgesind.

Geen mens kan ooit werklik “objektief” wees nie. Geen saak word ooit benader met ’n leë kop of vanuit ’n leë menswees nie. Uit hul spesifieke agtergrond en ervaring vorm mense vooronderstellings oor die wêreld, die lewe en ander mense. Was die ervaring grootliks positief, kan hulle positiewe vooronderstellings ontwikkel, byvoorbeeld dat die wêreld in die algemeen ’n goeie, veilige plek is en dat mense meestal goed en welwillend is. Was dit egter ’n geskiedenis van verwaarlosing, geweld en misbruik, kan dit lei tot die vooronderstelling dat die wêreld ’n gevaarlike plek en mense wreed en genadeloos is. Die meeste mense se geskiedenis en ervaring is iets tussen hierdie uiterstes. Hulle bly maar versigtig, op die uitkyk vir bedreiging, ingestel op oorlewing.

Vooronderstellings is gewoon menslik en hoef nie ’n probleem te wees nie. Dit kan wel egter ’n probleem word as mense nie besef hoe hul siening van sake bepaal word deur hul geskiedenis en vooronderstellings nie. Dan word hul manier die enigste manier – “objektiewe waarheid” wat hulle wil afdwing op ander. Wat nie strook met hul idees nie, word afgemaak as verkeerd, sleg of vals. Andersheid word as bedreiging ervaar. Bedreigde mense val aan of gaan op die verdediging. Met so ’n houding en gesindheid word dit moeilik om goeie verhoudings te handhaaf en eensgesindheid te bewaar.

Wie wel ’n besef het van hoe vooronderstellings werk, is in staat om hul manier te sien as een geldige moontlikheid tussen verskeie. Andersheid is dan nie noodwendig verkeerd, sleg of vals nie. Dit is net anders en hoef nie as ’n bedreiging gesien te word nie. Andersheid kan selfs positief en verrykend wees. Dit kan stimuleer tot gesprek: Hoe werk dit vir jou? Hoe sien jy dit? Mense met ’n oop, onbedreigde, weetgierige houding en gesindheid stel hulself oop om te leer. So brei hul ervaringswêreld uit. Met ’n ruimer ervaring en ’n breër verstaansraamwerk kan insig en begrip vir die ander positiewe, opbouende interaksie tot gevolg hê. Dan word eensgesindheid moontlik sonder dat enersheid afgedwing word.

Vooronderstellings in sigself is nie ’n probleem nie. Rigiede vooronderstellings met ’n houding van “ek-is-die-norm” en alles anders is verkeerd, kan wel ’n probleem word. Wanneer nog ’n tree verder gegee en die grens van vooronderstelling na vooroordeel oorgesteek word, word dit ’n reuseprobleem.

Vooroordeel is vernietigend en ontmenslikend. Deur ’n ander se menswees tot niet te maak, word hulle die Godgegewe lewensruimte en lewensmoontlikheid ontneem. Om dit aan die naaste te doen, gaan reëlreg in teen die evangelie.

Vooroordeel beskadig nie net die ander nie, maar ook die self. Wie ’n ander ontmenslik, verloor hul eie menslikheid. Wie dit aan ’n ander doen, word self ’n monster.

Vooroordeel is verwronge vooronderstellings. Negatiewe waarde-oordele word oor ander gemaak. Dit word uitgedruk in die vorm van stereotipering en etikettering. Sulke uitsprake oor die ander weerspieël nie die waarheid nie. Dit is ’n verwringing van die werklikheid. Dit is ’n leuen.

Deur stereotipering en etikettering word mense of groepe gereduseer tot één of ’n paar eienskappe wat aangebied word as die algemene “waarheid” oor hulle. Op die keper beskou, is sulke uitsprake irrasioneel en onlogies. ’n Voorbeeld in die Bybel is Titus 1: 12: “Die Kretensers is almal leuenaars; hulle is wilde diere en lui vrate.” Natuurlik was dit nie die waarheid oor alle mense wat op die eiland Kreta gewoon het nie. Hulle kan nie gereduseer word tot hierdie drie eienskappe nie. Almal van hulle is ook nie presies eners nie. God het hulle in hul volle verskeidenheid en volle menswees geskape. Daar is alle soorte onder hulle, soos onder alle mense. Dit die werklikheid.

Die vraag is dan: Waarom doen mense en ook Christene dit aan mekaar – om uit vooroordeel te stereotipeer en te etiketteer? Uit vrees, sê die psigoloë, want mense is ingestel op oorlewing. Mense wil ook lekker leef. Dan kom magsug, hebsug en gemaksug by as verdere motivering. Mag oor ander kan gebruik word tot die eie voordeel en gerief.

Vir die eie oorlewing en ’n gemaklike lewe het mense oor die eeue heen geweld gebruik om ander se land, goed en hulpbronne af te vat. Die sterkes, die oorwinnaars, moes hul mag en dominansie beskerm en vertoon om “bo” te kon bly. Dit is gedoen deur die verloorders te verneder, klein te maak en “op hul plek” te hou. Metodes was onder andere die verkragting van vroue en mans en om die mense van oorwonne volke as slawe te verkoop. Met slawehandel is boonop goeie geld gemaak.

Ja, dit was lank gelede, kan ons sê. Barbaars. Dit is ondenkbaar dat Christengelowiges aan so iets sou meedoen. Tog het Christenvolke in die geskiedenis wel meegedoen. Die manier om by die evangelie en die Christelike gewete verby te kom, was om hul slagoffers te stereotipeer en te etiketteer. Die ander is minderwaardig verklaar, selfs tot non-mense gemaak, met diere vergelyk, soos die voorbeeld van die Kretensers in die Bybel. So het die Christen plantasie-eienaars in die suide van Amerika nie toegelaat dat die evangelie aan hul slawe uit Afrika verkondig word nie. As die slawe mede-Christene sou word, sou hulle soos mense behandel moes word. Die verlies aan inkomste sou te erg wees. Dan liewer oorlog maak teen hul eie mense. En so begin die vernietigende Amerikaanse Burgeroorlog.

Die Elmina-kasteel aan Ghana se weskus is eers as ’n fort opge-rig in 1482 deur Christen Rooms-Katolieke Portugese. Daar het hulle die mense van Afrika wat hulle met wapengeweld gaan vang het, aangehou totdat die slaweskepe na Amerika vertrek het. In die binnehof van die kasteel staan ’n kerkie waar eredienste gehou en God aanbid is. ’n Klipgooi van die kerkie af is die kelders waarin mense in haglike toestande aangehou is terwyl hulle wag om verkoop te word. Die Portugese is in 1637 verjaag deur die Christen Reformatoriese Nederlanders met die hulp van die plaaslike bevolking wat gedink het hulle het kans op ’n beter lewe met die Nederlanders daar. Die Nederlanders het egter gewoon met die slawehandel voortgegaan. Mensehandel is ’n betalende besigheid.

Alle gevolge van die ontmensliking van ander deur stereotipering, etikettering en vooroordeel is nie so gruwelik soos hierdie voorbeelde nie. Die beginsel en die gedrag is egter dieselfde. Ons hoef nie ver te soek na voorbeelde van vooroordeel, stereotipering en etikettering ook onder Christengelowiges vandag nie. Die vooroordeel dat die ander “minderwaardig” is, lei tot stereotipering en etikettering soos “dom”, “emosioneel”, “swak”. Daarmee word die minderwaardiges “op hul plek” gehou. So kan mense se liggame en arbeid uitgebuit word tot voordeel van diegene wat mag vir hulself toegeëien het. 

Dit strook nie met die evangelie nie.

(Prof Yolanda Dreyer is hoogleraar aan UP se Departement Praktiese Teologie en leraar in die Nederlandssprekende Gemeente in Johannesburg)

af
af
Deel met behulp van
Copy link