Verlede week het ons gekyk na die rol van Suid-Afrikaanse vroue in die geskiedenis. Maar hoe het hul rol in ons kerke deur die jare verander?

Ook in ons kerke en ons huise het ons oë oopgegaan vir die besondere uniekheid van vroue. In ons huise is ons vroue nie meer net kosmakers en kinderopvoeders nie. In baie gevalle is hulle mede-broodwinners en -beplanners. In ons kerke is hulle ywerige, toegewyde, bekwame diakens, ouderlinge, predikante en dienswerkers op feitlik elke terrein. Feitlik elke gemeente se sekretariële beampte is ’n vrou. In baie gemeentes, veral tydens vakantskap, is hulle die voorvatters en raakvatters wat die gemeente deur die diepwater lei en laat voortbestaan.

Dit was nooit die bedoeling van die Here dat vroue die agtergeblewenes en onderdaniges moes wees nie. Tydens die skepping het die Here gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke (Gen 2: 18). Regdeur die Ou Testament was daar vroue wat op voortreflike wyse naas mans gedien het in die koninkryk van God: die aartsmoeders, rigters, profete en ander. Die Verlosser van die wêreld, Jesus Christus, word uit ’n vrou gebore. In sy geslagsregister word die name van vyf vroue vermeld. Vroue – Elisabet die ma van Johannes, en die profetes Anna – is van die eerstes wat die Messias se koms waargeneem en sy lof besing het. In die Nuwe Testament beywer Jesus Hom in die besonder daarvoor om vir vroue hul gelykmatige, regmatige plek naas mans te gee. Die besondere plek wat vroue in Jesus se lewe en werk ingeneem het, bevestig dat vroue in sy koninkryk en sy wêreld net so belangrik is soos mans.

Fundamentalisties met die pikmetode het baie kerke op grond van 1 Korintiërs 14: 33-35 en 1 Timoteus 2: 11-15 geoordeel dat die man die hoof is en die vrou die onderdanige wat ook in die kerk moet swyg. Genoemde Skrifbenadering het meegebring dat vroue eers in ’n baie laat stadium in die geskiedenis in die meeste kerke toegelaat is tot die ampte.

Ander tekste soos Romeine 16: 1, 3 en 12 en Filippense 4: 2 en 3 bevestig egter dat vroue reeds in die vroeë kerk ampte beklee het. In plaas van om hier en daar na ’n teks te gryp, moet eerder organies na die Skrif gekyk word. In die lig van Jesus se versoenende werk, is dit duidelik dat vroue mans se gelyke is, soos ons lees in Galasiërs 3: 26-29: Omdat julle aan Christus behoort, is julle nou ook deel van sy nuwe familie. Binne hierdie familie maak dit nie saak aan watter volk jy behoort nie. Of wat jou status of kwalifikasies is nie. Of wat jou geslag of ouderdom is nie. Hierdie mensgemaakte onderskeidings geld nie vir Christus nie. Hier gaan dit nie daaroor of jy Jood of Griek is nie, en of jy ’n slaaf of ’n baas is nie, en of jy ’n man of ’n vrou is nie. Binne sy familie is almal gelyk. Almal hier binne het net een doel voor oë: om Christus se Naam groot te maak (Die Boodskap).

In die vroeë 1920’s het Anna Linde (gebore Onslen) teologie gestudeer. Sy is bevestig as Presbiteriaanse predikant. Toe sy met ds JF Linde trou, moes sy haar amp prysgee omdat vroue in daardie stadium nie toegelaat is as predikante nie. Ook Jeanne Viljoen (gebore Fourie) wat haar BD-graad met lof behaal het, kon nie as predikant in die NG Kerk georden en bevestig word nie. Albei het egter as pastoriemoeders besonder waardevolle werk saam met hul mans in hul gemeentes gedoen.

In die 1950’s het verskeie buitelandse Protestantse kerke begin om die ampte vir vroue oop te stel.

In die tradisionele Afrikaanse susterkerke het vroue redelik onlangs eers toegang tot die ampte gekry. In die Hervormde Kerk kon vroue sedert 1973 as diakens dien, en sedert 1979 as ouderlinge en predikante.

Die eerste vrouepredikant in die geledere van die Hervormde Kerk was Yolanda Dreyer. Sy is in November 1980 gelegitimeer en in Januarie 1981 bevestig, en is sedert 2000 professor in Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Van die eerste vrouediakens in die Hervormde Kerk, so ver vasgestel kon word, is waarskynlik Susan Scheepers (vrou van ds Skip Scheepers) en 20 damestudente van Gemeente Fonteinedal, Ann Kay van Durban-Suid, Liz van der Linde, Sarie Voster, Sophie Jansen, Bettie Viljoen (Johannesburg-Middestad) en LC Botha van Oudtshoorn.

Van die eerste vroue-ouderlinge in die Hervormde Kerk was waarskynlik Vera Koekemoer van Randburg en Hester Wolmarans van Leondale.

In 1982 is die amp van diaken en in 1990 die ampte van ouderling en predikant in die NG Kerk vir vroue oopgestel.

Volgens Wim Vergeer was alle kerkampte in 2018 nog ontoeganklik vir vroue in die Gereformeerde Kerke.

Naas prof Christina Landman, prof Yolanda Dreyer en dr Elsje Büchner was en is daar baie vroue uit kerklike geledere wat hulle met groot insig en entoesiasme beywer vir die regte van vroue.

Teoreties beklee vroue reeds geruime tyd gelyke status met mans met betrekking tot die kerklike ampte. Geld hierdie gelykheid werklik in die praktyk? ’n Mens wonder as jy kyk na die aantal vroue in kerkrade, ringsrade, sinodes en kerklike komitees.

Dan is daar in ons kerke natuurlik die onbekende vroue. Vroue wat nie in ampte dien nie, maar wat as kategete, in diensgroepe, die NHSV en op vele ander terreine diens lewer. Daar is ook duisende vroue wat op basaars, met spysenerings en op ander wyses ons gemeentes aan die gang hou.

In ons elkeen se lewe is daar vroue wat ons lewe vol maak. Sonder hulle sal ons nooit kan oorleef nie. Dink aan jou ma: Dit is sy wat jou in die wêreld gebring het, wat deur baie nagte moes opstaan. Dit is sy wat, saam met jou pa, jou gevoed en opgevoed het. Met liefde en deernis het sy jou gehelp deur die skool, deur die universiteit, tot voor die kansel. Daarna was en is sy die ouma van jou kinders. Steeds die persoon met die oop hand, die warm hart, die luisterende oor, die betraande oog vir jou en jou huisgesin, en vir haar kleinkinders.

Dink aan jou lewensmaat. Sy is die een wat saam met jou oor die toekoms gedroom het. Sy is die een wat haar elke dag afsloof om hierdie toekoms te laat realiseer. Dit is sy wat jul kinders in die lewe gebring het, en wat saam met jou met liefde, deernis en toewyding die kinders gereedmaak vir die toekoms.

Dink maar aan jou ouma, baie van ons het twee van hulle. Dink aan jou susters, tannies, jou vriendinne, die vroue van jou kerk, die vroue in jou gemeenskap, al die vroue op jou lewenspad.

Die lewe sonder al hierdie vroue is seker vir die meeste van ons ondenkbaar.

Kom ons dank die Here vir die vroue in ons land, in die wêreld, op ons lewenspad. Kom ons bring in hierdie maand besondere hulde aan hulle. Kom ons respekteer hulle. Kom ons beywer ons vir die uitskakeling van alle diskriminasie en geweld teen hulle. Kom ons wees lief vir hulle, gee om vir hulle, maak hul lewe vol, net soos hulle ons lewe vol maak.

Kom ons huldig in hierdie Vrouemaand al die vroue van ons land wat in die verlede en die hede van hierdie land ’n beter plek wil maak. Reik in die besonder uit na dié wat bejaard, eensaam, siek, behoeftig of hartseer is, of in enige ellende verkeer.

*** Met dank aan mnr Nándor Sarkady, argivaris van die NHKA se Kerkargief, vir sy hulp met die navorsing vir hierdie artikel.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link