Psalm 15

Wie bewustelik in God se nabyheid lewe en deur God aangeraak voel, ervaar ’n heel besondere soort vrede. Die Hebreeuse woord vir vrede, shalom, gaan oor méér as ’n gebrek aan stryd of konflik. Dit dui op ’n diepe vrede, rus na liggaam en siel. Dit is ’n omvattende vrede: met God, die lewe, die wêreld, jouself en ander. Wie sou nie so ’n lewe begeer nie? Maar is dit moontlik?

In die alledaagse lewe is dit maar moeilik. Jy voel nie altyd veilig nie – daar is bedreigings en onsekerheid. Die wêreld is nie altyd gasvry nie. Jy voel nie oral welkom nie. Oorlewing word dan hoofsaak, liggaam en psige waaksaam, op die uitkyk vir gevaar. So is ons bedraad. Dit kom vanself. Wat nie vanself kom nie, is ’n ánder manier van lewe. Dit fokus nie so op oorlewing nie, maar eerder op die groter prentjie. Nie die waardes van die wêreld dikteer nie, maar die waardes van God se koninkryk. So ’n lewe dra ánder vrugte.

Dit is nie maklik om so ánders te voel en te lewe, om tegelyk in hierdie werklikheid én in God se werklikheid te bestaan nie. Maar wie dit regkry, kan ’n ánder soort lewenskwaliteit leer ken. Shalom van diep binne verander die perspektief op daar buite. Die Psalmis vra: Wie mag ’n gas wees in u tent? Wie mag tuisgaan op u heilige berg? In die tyd van die Psalmis was daar streng reëls oor wie tot God mag nader en hoe ver hulle in die tempel mag kom. Maar vir die Psalmis is net een ding nodig: ’n goeie gesindheid en lewenshouding – ’n goeie hart. Dit is om die waarheid lief te hê en te wil doen wat reg is. Om ander nie kwaad aan te doen nie, maar God se geregtigheid aan almal te betoon. ’n Mens met dié bereidheid en gesindheid is welkom in God se nabyheid en sal dan die volle seën van God se gasvryheid, veiligheid en vrede kan ervaar – altyd. 

Seënbede

Die vrede van God sy met jou.

Prof Yolanda Dreyer, Emeritus