Jesaja 43: 1-7

Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne (Jes 43: 1). ’n Verreikende belofte van God. Hy sê eintlik dat Hy jou twee keer besit.

Die eerste keer as ons Skepper en die die tweede keer as ons Verlosser. Jy is so kosbaar vir Hom dat Hy jou nie kan laat gaan nie. Jy is so kosbaar vir Hom dat jy nie bloot net ’n nommer op sy inventarislys is nie. Nee, Hy roep jou persoonlik op jou naam. En Hy seël die roeping wanneer Hy dan sê: Jy is Myne.

Hierdie belofte is so gelaai met betekenis. Sodra jy dan weet of verstaan dat jy aan God behoort, waarom is jy nog bang? Waarom word jy nog deur vrees van watter aard ook al gedryf? Is hierdie wete dat jy aan God behoort – twee keer as’t ware – nie die teenvoeter vir jou vrees nie? Wat beteken dit om aan God te behoort? Hy beskerm jou, Hy bewaar jou en Hy sorg vir jou.

Kinders van God is nie gevrywaar dat die vloede van die lewe jou nie sal oorweldig nie, maar jy het die versekering dat wanneer dit gebeur, God vir jou ook ’n pad deur die water sal maak net soos Hy ’n pad deur die Rooisee vir Israel gemaak het. As jy deur vuur gaan…(Jes 43: 2), sal die vlamme jou nie verswelg nie, want soos Hy vir Sadrag, Mesag en Abednego in die brandende oond beskerm het, sal Hy jou ook deur die vure van die lewe beskerm.

Waarom doen God al hierdie dinge vir jou? Omdat jy vir my Kosbaar is… (Jes 43: 4). Jou waarde is inderdaad so groot dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh 3: 16).

Mag jy dit altyd onthou, veral wanneer die wêreld probeer sê jy is nie goed genoeg nie. Onthou dat ons nie liefgehê word omdat ons waardevol is nie, maar dat jy waardevol is omdat God jou lief het.

Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes