Esegiël 37: 1-14

Deur die Gees van die Here in besit geneem, sien die profeet Esegiël ’n skrikwekkende toneel in die gedeelte wat ons gelees het. ’n Vallei vol doodsbeendere, menslike doodsbeendere. Daar is baie bene van verskillende mense en hulle is baie droog. Die Here vra ’n eienaardige vraag vir Esegiël: Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom? (Eseg 37: 3).

Die profeet antwoord: Nee, dit weet net U, Here my God (Eseg 37: 3). Kyk na die interessante formulering van Esegiël. Aan die een kant sê hy eintlik: Nee Here. Natuurlik kan hierdie bene nie weer lewe nie. Dis dood logies dat hierdie bene nie weer kan lewe nie. Hoe kan hierdie bene op die regte plekke by mekaar uitkom? Die regte gewrigte by die regte bene? Hoe kan daar weer senings en senuwees oor hulle kom? Hoe kan daar weer vleis aan die bene kom en vel oor hulle getrek word? Dis onmoontlik dat daar boonop lewe in sulke dooie bene kan kom. Dit gebeur nêrens dat daar in sulke droë bene weer lewe kom nie.

Maar Esegiël antwoord verder: Hy sê nie net: Nee Here, nie. Hy sê ook: Net U weet dit, Here. Daarmee bedoel hy waarskynlik meer as wat hy sê. Natuurlik kan hierdie bene weer lewe! By God is enigiets immers moontlik. Selfs die onmoontlikste is moontlik. As God wil dat hierdie dooie bene bymekaarkom, en senings oor kry, vleis en vel oor kry en lewe, kan dit natuurlik gebeur! By God is alles moontlik. Hy het sy eie Seun, Jesus Christus, wat dood was en al drie dae in die graf was, met sy geweldige groot opstandingskrag opgewek uit die dood.

Van die Heilige Gees bely ons dat Hy die Heer en Lewendmaker is. Maak nie saak hoe dor en droog en leweloos en dood die menslike bestaan kan wees nie. Deur die wonderbaarlike werking van die Heilige Gees kan daar altyd nuwe lewe kom. Laat die Heilige Gees toe om jou lewe, jou huwelik, jou gesin, jou menswees wat dalk dood is, weer lewend te maak.

Dr Daan van Wyk (jr), Van der Hoff