Jeremia 29: 11 (Die Boodskap)

Baie mense in ons land vra: Is daar hoop? En dit het my laat vra: Wat sien mense as hoop? Betekenisvolle gemeenskappe genereer hoop omdat daar basiese vertrouensverhoudinge tussen mense bestaan. Ons moet vir mekaar hoop gee, ons moet hoop met mekaar deel.

Wanneer ons na die Bybel kyk, is Bybelse hoop die vaste oortuiging dat God sy beloftes gaan vervul – dit is ’n versekering van wat sal gebeur. Hoekom kan ons hoop op Christus en sy beloftes? Want uit ons verhouding met God, uit God se vertrouensverhouding met ons, weet ons dat God sy beloftes nakom. Dit wat God belowe, dit wat God verseker, daarop kan ons hoop. Hy belowe dat wanneer ons vashou aan Hom, ons sal wees waar Hy is, dat ons die ewige lewe saam met Hom sal hê.

Wanneer ons in Jeremia 29: 11 lees Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê, het dit eintlik niks te make met aardse welstand en rykdom en dat dit net die heeltyd met ons goed moet gaan nie. Maar in plaas daarvan dat die volk op ’n spoedige terugkeer en herstel bly hoop, moet hulle eerder aan hul verhouding met God werk. Hoekom? Want vertrouensverhoudings bring hoop vir die toekoms, en sonder ’n goeie en sterk verhouding met God, kan ’n mens eintlik nie hoop hê vir die toekoms nie. Jou verhouding met God kan hoop bring vir iemand wie se verhouding met God skade gekry het. Ons moet met mekaar ons stories van hoop deel, want deur ons verhouding met God wat dalk moedelose en hopelose tye deurstaan het, kan ons hierdie stories deel met moedelose mense en met mense wat hoop verloor het. Dit is dalk net nodig om ook ander wat dit hoor, se verhouding met God te herstel.

Daardie herstel van ’n verhouding met God, dalk ook jou eie, bring hoop vir die toekoms, maak nie saak wat op ’n mens se pad vir jou voorlê nie. Mag ons aanhou om met mense ons geloofspad van hoop te deel.

Ds Retha Losper, Suidoos-Witbank