Markus 8: 27-29

Om ’n volgeling van Jesus te wees en te probeer verstaan wie Jesus is, is om gewillig te wees om op dieselfde reis as die dissipels te gaan. Om bereid te wees om so reis aan te pak. ’n Reis gevul met onsekerheid en verwarring, maar ook verwondering! Hierdie reis help ons om ons eie dissipelskap onder die vergrootglas te plaas. In Markus 8 lees ons oor Jesus wat vir sy dissipels vra: Wie, sê die mense, is Ek?

Die dissipels is op ’n reis waar Jesus hulle metafories aan die hand neem. Ons lees in Markus telkens oor hoe Jesus die dissipels keer ná keer verduidelik en insig bied op hul reis. Jesus los nie die dissipels gestrand tydens hul onsekerheid nie. Dit is vertroostend om te lees dat die volgelinge van Jesus nie minder werd is as dissipels omdat hulle nie dadelik verstaan wat Jesus hulle probeer leer nie. Hulle is nie minder werd wanneer hulle nie dadelik begryp wat hul eie dissipelskap beteken nie.

Jesus neem hulle steeds aan die hand, met ware liefde en genade en begelei hulle. Nes ons is die dissipels op ’n reis om Jesus te verstaan, en op dieselfde manier neem Jesus ons aan die hand met genade en pak hierdie reis saam met ons aan. Laat toe dat Jesus jou aan die hand neem, op hierdie reis lei en Hom oor jou ontferm! Jy, nes die volgelinge van Jesus, is nie minder van ’n dissipel as jy soms deurmekaar is of foute op hierdie reis maak soos jy leer nie. Hierdie reis vereis van ons om Jesus deur die Bybel en gebed te leer ken sodat ons ook kan probeer antwoord wie Jesus vir ons is as ons gevra word: Maar jy, wie sê jy is Ek?

Gebed

Heilige en Almagtige Vader, ons weet dat U ver bo menslike begrip is, maar steeds buig U af tot by ons. U buig af tot by ons, en neem ons aan die hand en gaan saam met ons op hierdie reis.

Ds Iwana Kruger, Pretoria-Oos