1 Korintiërs 12: 4-7
Daar is ’n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal.
Daar is verskillende geestelike gawes wat deur die een Gees aan mense gegee word. Die gawes is uiteenlopend van aard, maar almal is belangrik en nodig om in God se koninkryk te kan dien. Die feit dat daar ’n verskeidenheid van gawes is, dui gewoon op die veelvoud van die een Gees se werkinge in en om ons.
Paulus verduidelik dit mooi deur die beeld van ’n menslike liggaam te gebruik. Die liggaam het verskillende liggaamsdele en elke deel het sy eie funksie. Die oog moenie probeer om die oor te wees nie en die oor om die voet te wees nie. Dit sal chaos in die liggaam veroorsaak. So beskik elke kind van God oor sy of haar eie unieke gawes, wat elkeen uniek maak, wat elkeen presies maak wie God bedoel het hy/sy moet wees. Nie almal is predikers nie. Nie almal kan belangrike besluite neem nie. As jy oor daardie gawes beskik, moet jy dit gebruik. Maar iemand moet ook die deure oop- en toesluit, die vloere was en die banke regskuif, plekke aanwys, die klanksisteem hanteer. Die liggaam van Christus (die kerk/gemeente) het AL die gawes nodig om behoorlik te funksioneer. Probleme en konflik begin in die liggaam ontstaan wanneer ons op mekaar se terreine begin beweeg.
As ons verstaan dat AL die gawes nodig is en AL die gawes deur die een Gees tot ’n eenheid saamgesnoer en gebruik word, begin ons jubel oor ons eie plek in die kerk of gemeente. Dieselfde Gees, dieselfde Here (Jesus Christus), en dieselfde God (die Vader), is aan die werk in ALLE gelowiges.
Ds Dawie Jacobs, Emeritus