Jesaja 40: 26 (Die Bybel vir almal) 

Kyk op. Wie het die sterre gemaak en wie het gesê hoeveel sterre daar moet wees? Wie het vir elke ster ’n naam gegee? Hulle is almal daar omdat Ek die God is wat kan doen wat Ek wil doen. Die sterrehemel is besaai met sterre en die melkweg wemel van sterre.

Jesaja 40 vertel van ’n moedelose volk in ballingskap. Tog word hulle opgeroep: Dit sal nou beter gaan. Hoe erger dit in die wêreld gaan, hoe groter is die behoefte om te weet dat daar uitkoms is. God is die enigste hoop. Die opdrag is net: Kyk op. Kyk op na God, bid tot Hom. Kom met jou eerlike, rou emosies na Hom in gebed. God is wie Hy is en Hy weet wat Hy gaan doen. Kyk op na Hom in vertroue op Hom. Moenie vaskyk teen die struikelblok/probleme van die oomblik nie. God is orals en te alle tye. Daarom is Hy die ewige God. Skepper van die hele wêreld. Ons hoef nie te vrees dat iets buite sy beheer is nie.

Kyk op na Hom. Moenie vaskyk teen die krisisse en probleme en oënskynlike hoë berge wat jy moet uit nie. Die Here maak mense wat moeg is, weer sterk. Hy help mense dinge doen wanneer hulle dit self nie meer kan doen nie.

Hemelse Vader, U heers op u troon, U is ook oral waar ons woon. 

Dit is ons troos as ons twyfel of vrees: U sal ons God vir ewig wees.

Volke mag worstel en oorlog verklaar, mense mag stryd voer met mekaar.  

Sterre, planete mag brand en vergaan – U troon sal ewig bly bestaan.

Smart of tragedie mag ons hier oorval – dit tref ons male sonder tal.

As ons verbyster net staan en bly staar, bly U ons God. U’s altyd daar!

Vader, ons weet ons kan nêrens heen dwaal, U sal ons altyd weer kom haal.

Niks stuit u liefde en majesteit, Here ons God, in ewigheid.

(Gesang 507: 1-4)

Ds Kathleen Smith, Kaapstad