Jakobus 1: 5-8 (AFR2020)
As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. Want so ’n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie. Hy is ’n dubbelhartige mens, onstandvastig in alles wat hy doen (Jak 1: 5-8).
Wanneer ek die terugkyk op 2025 en vooruitkyk na 2026 is ek baie bewus van wat ek weet. Ek weet waar ek gestruikel het. Ek weet waarin ek suksesvol was. Ek kan bewustelik ’n inventaris neem van my doen en late. Ek ken tog my realiteit, my omgewing, en ek kan weet wanneer ek angstigheid en vrees beleef. Ek het denke oor en ’n verstaan van die jaar wat verby is en waar ek myself tans bevind.
Vandag weet ek ook wat in my hart leef (sien weer gister se dagstukkie). Ek vra vir God om wysheid en raak bewus van hoe ek in geloof, met vaste vertroue, my Heer se inspraak ag in my dag. My voorneme om te weet is juis daarin omdat daar deernis in my hart is, dat ek met sekerheid kan onderskei tussen wat mý wil is en wat God se wil is.
Soms voel ek self soos ’n dobbertjie, maar vandag kies ek bewustelik om in geloof kreatief om te gaan met dit wat ek weet. Dit bring vir my nuwe energie in die take van die dag, besluite in my lewe en die pad wat ek vandag loop.
Die wysheid wat God aan my skenk, verkwik my siel. Dit vernuwe my denke en dit bring standvastigheid vir my, nie net in wat ek doen nie, maar veral in wat ek weet ek weet.
Gebed
Heer, laat u lig oor my gedagtes skyn soos dit vernuwe in hierdie dag. Amen.
Dr Pierre Jacobs (jr), Gaborone