Markus 8: 34 tot 9: 1

Ons word gekondisioneer om te fokus op sukses en voorspoed. Ons moet uitstyg bo ander, die hoogste sport bereik. Moenie dat ander in jou pad staan om jouself te verwesenlik nie! Staan op vir jou regte! Jy het die reg op eie geluk.

…wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. Jesus bied hierdie uitnodiging aan vir die mense wat Hom wil volg. Radikaal anders as wat mens sou verwag. So was sy prediking en bediening ook. Hy het die reëls en die godsdienstige gebruike van sy tyd as skynheiligheid afgewys. Hy het gesê as jou hart nie reg is nie, is al die uiterlike godsdienstige pligte ook nie reg nie. Sy volgelinge het by die dag meer en meer geword.

Daar is ’n geheimenis wat die persoon van Jesus omsluit. Markus onthul hierdie geheimenis aan die einde van sy verhaal. Hy is waarlik die Seun van God wat verhef is tot die regterhand van God. Hy is die Messias. Eers wanneer ’n mens vanuit die opstandingsgebeure terugkyk, word hierdie geheimenis onthul.

Hy is die gestuurde van God wat ter wille van ons gely, gesterf en uit die dood uit opgestaan het. Hy moes gehoorsaam hierdie kruisweg stap. Hy roep sy volgelinge op om ook op hierdie manier deur die lewe te stap. Die lewe word ’n werklikheid waar mense bereid is om Hom op hierdie kruisweg te volg. …wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.

Jesus wys regdeur sy lewe hoe hierdie beginsel uitgeleef moet word deur liefdesdiens en omgee. Deur die minste te wees en ander bo jouself te stel.

Wanneer ons na geluk, voorspoed of sukses soek, sal ons volgens sy voorbeeld moet leef. Anders gaan ons aan die einde van ons soeke besef alles was ’n gejaag na wind.

Ds Manda le Roux, Weskus