Job 42: 3 (AFR2020)
Toe ek nog klein was, het my ma jaarliks vir my nuwe slaapklere gemaak. Ek was altyd opgewonde want dit het prentjies bevat van allerhande karakters waarna ek opgekyk het. Wanneer die tyd gekom het vir nuwe slaapklere, moes ek voor my ma gaan staan waar sy met haar maatband my arms, bene, nek en middellyf gemeet het.
Job se verhaal herinner my aan die maatband. Job beleef hoe verskeie rampe hom tref en dít terwyl hy een van die beste mense in sy deel van die wêreld was. Job het in ’n wêreld en tyd geleef waar mense nie geglo het dat rampe en slegte tye in ’n mens se lewe toevallig is nie. Destyds was die swaarkry in jou lewe altyd aan iets toegeskryf, al was dit ook jou eie sondigheid. In die lig van hierdie rampe wat Job getref het, doen sy vriende aanvanklik die regte ding. Hulle kom sit net in absolute stilte by Job. Die stilte hou egter nie lank nie, want toe begin sy vriende te rasionaliseer en verduidelik hoekom hulle glo hierdie rampe vir Job getref het. Job kry die geleentheid om homself te verdedig en noem dat hy tog ’n goeie mens is en nie verstaan hoekom die leed hom getref het nie. Job dink, net soos sy vriende, dat hy die antwoorde vir sy seer en pyn het.
Heel aan die einde praat die Here en wys sy grootheid asook die grootheid van die skepping vir Job. Wat is die slotsom waartoe Job kom? Ek het sonder begrip en kennis my mening gegee oor dinge wat te wonderbaar is vir my (Job 42: 3). Job erken dat die maatband waarmee hy en sy vriende die Here probeer meet het, hopeloos te klein is.
Ons wil ook dikwels die Here in ons maatbande indwing om so ’n greep op die Here en sy besigwees in ons lewens te probeer kry. Al hoe ons in die teenwoordigheid van hierdie grote God kan reageer, is met absolute verwondering. Dankie tog ons maatbande is te klein!
Ds Steve Oxton, Wapadrant