2 Konings 5: 9-15 (AFR2020)

God werk nie net binne die grense van die gemeente waaraan ons behoort nie. Hy is orals teenwoordig. Selfs in Aram, een van Israel se tradisionele vyande, is Hy werksaam. ’n Israelitiese dogter wat slagoffer van een van die Aramese strooptogte was, is die een wat Hy gebruik om hoop te bring vir die Naäman, hoof van die Aramese leer.

Naäman was melaats. Die dogter was in diens van sy vrou in Damaskus. Sy het die versugting uitgespreek dat as hy maar net voor die profeet Elisa wat in Samaria is, kon verskyn, dan sou sy velsiekte genees. Elisa hou kop oor die reaksie van die koning van Israel en laat weet dat Naäman na hom toe gestuur moet word.

Aanvanklik is hy skepties, maar hy gaan tog na Elisa. Op die ou einde het Naäman gesond geword. Hy verklaar dan ook later: Kyk, ek besef nou, dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel! Naäman die Arameër verklaar dat God die enigste God op aarde is. Hy is nie net uitwendig genees nie, iets binne hom het verander. Sy reaksie is om nou iets terug te wil doen, terugbetaal.

Die klem in hierdie verhaal is op God se aksie in die wêreld. In uitdagende tye kan mens aan God oorgee. Besef wie Hy is, sy identiteit. Besef dat Hy buite ons grense werk. Sy leiding van mense en menslike gebeurtenisse is nie noodwendig gelyk aan opspraakwekkende gebeurtenisse nie. Omdat Hy in en oor die lewens van mense regeer, lei Hy deur mense se besluite te beïnvloed, hulle lewens te rig en in die proses alledaagse gebeurtenisse te gebruik. Dit sien ons ook in hierdie verhaal. Moenie aan sy liefde twyfel nie.

Ds Kathleen Smith, Kaapstad