Johannes 16: 5-15

Die Heilige Gees kom na gelowiges toe om hulle te troos en dinge anders te laat verstaan. In hierdie stadium is die dissipels bang en onseker. Dit lyk vir hulle asof hulle voortdurend aan die kortste end trek en asof onregverdigheid hul grootste vyand is.

Die Heilige Gees kom en Hy sal drie dinge aan die wêreld duidelik maak: Eerstens sal die ongelowiges weet dat hulle die mense is wat verkeerd is, omdat hulle nie in Jesus Christus glo nie. Daarvan sal hulle nie ontkom nie. Die tweede saak is dat die Heilige Gees die hele wêreld sal oortuig dat Jesus reg is en dat hulle verkeerd is. Die derde saak is dat die Gees duidelik en onomwonde sal verklaar dat almal eendag voor die oordeel van God sal staan en dat niemand dit sal ontkom nie. Die duiwel, wat so hard probeer om mense te oortuig dat Jesus Christus nie die ware Seun van God en daarom God self is nie, sal self sy verdiende loon kry.

Nêrens in Jesus se boodskap kry ons die idee dat die Heilige Gees enigiets doen om sy eie eer te dien nie. Die Boodskap-vertaling stel dit soos volg: Maar as die Heilige Gees eers hier is, sal Hy julle hand vat en julle met die paaie van die waarheid langs lei. Hy is immers die Gees wat die waarheid ken. Hy sal nie sommer ’n klomp los dinge uit sy eie vir julle vertel nie. Hy sal met julle praat oor wat Hy gehoor het. Verder sal Hy julle ook voorberei vir alles wat nog vir julle voorlê. Die Gees sal voortbou op wat Ek gesê en gedoen het. Hy sal maak dat mense sal agterkom hoe belangrik Ek is. Ek wil nie onnodig my eie beuel blaas nie, maar wat aan my Vader behoort, is ook Myne. Daarom kan Ek sê dat die Gees verder sal verkondig wat Ek gedoen en gesê het (Joh 16: 13-15, DB).

Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb