’n Sesde ent: Eenvoud is die integrasie van oordenking (kontemplasie) en reaksie (om te doen). Hierin gesetel is jou groeiende bevoegdheid om te lewe te midde van die wisselvalligheid van jou dag. Elke dag is daar makliker en meer uitdagende oomblikke en situasies. Oordenking van ’n oomblik of situasie is nie dieselfde as om aksie te neem, oftewel iets te doen nie. Hierdie twee handelinge geïntegreerd (maar nie eenders nie), bring eenvoud in jou doen en late.
’n Teksvers ten opsigte van oordenking, is 2 Korintiërs 3: 18 (AFR2020): En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in ’n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.
’n Teksvers ten opsigte van aksie, is Jakobus 1: 25 (AFR2020): Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder is nie, maar ’n doener.
Vir Josef en Maria was die blydskap van die geboorte van Jesus ’n diepe punt van oordenking, en die uitdaging van aksie ’n realiteit juis te midde van die uitdagings wat wag op hulle en op Jesus. Oordenking en reaksie gaan dus hand aan hand en bring eenvoud in ons handelinge, elke oomblik van elke dag.
Beoefen vandag herhaaldelik jou stappe van bewuswording as ’n geheel: stilwees, afsondering, verbondenheid, dienaarskap, in stilte en eenvoud.
Dr Pierre Jacobs (jr), Gaborone