Psalm 19: 13-14
In vers 13 draai die Psalmdigter na die realiteite van die mens se sondige bestaan. Die wetende sondes is daardie aksies en gedagtes wat ons weet indruis teen die wil van God. Dit is juis hierdie sondes wat die morele wet ons verbied. Ons ken hulle goed en sukkel so geweldig om van hulle los te kom. Maar die onwetende sondes is moeilik, want nie alle sondes word in die Bybel genoem nie. Dink aan sake soos pornografie, versekeringsbedrog, ensovoorts. Goed wat nie bekend was aan die Bybelskrywers nie.
Karl Barth definieer sonde in wese as ongeloof (Kerklike Dogmatiek, band IV.1, afdeling 60.2). Wat hy daarmee bedoel, is dat alle sonde neerkom op ’n tekort aan vertroue. As jy nie op God vertrou om jou die totale vervulling van jou intieme behoeftes binne die huwelik te gee nie, dan gryp ’n mens na pornografie. As ’n mens nie God genoeg vertrou vir jou daaglikse brood nie, dan pleeg ’n mens versekeringsbedrog sodat jy net daardie paar ekstra sente in die hande kan kry.
Genadiglik, as ons oor die sonde begin dink, begin ons dink aan Christus. Ons begin by die onteenseglike punt dat God ons in Christus uitverkies het om sy kinders te wees. Ja, kinders wat soms struikel en val, wat nie luister na die vermaninge van die wet nie. Wat selfs onwetend die pad vat wat weg van ons Vader loop. Maar ons Vader het ons nie net in Christus uitverkies nie, Hy het ons ook in Christus wat mens geword het, met Hom versoen.
Hierdie Christus wat mens geword het, ken ons swakhede en weet wat dit beteken om mens te wees. Hierdie Christus is ons hoëpriester wat ons met die Vader versoen. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie. Nee, daarom kan ons gaan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (Heb 4: 15, 16).
Ds Willem Dreyer, Groot Marico