Genesis 1: 1-2
Verdeeldheid en verwarring is kenmerkend van ons ons tyd en wêreld. Enersyds is ons daagliks getuie van die verdeeldheid tussen volke en state, godsdienste en selfs kerke. Van ’n verbrokkelende wêreld neem ons eweneens kennis. Die stryd tussen ideologieë soos kapitalisme en sosialisme, nasionalisme en outokrasie, lei tot spanning en kook oor in oorloë en konflik.
In so ’n wêreld staan die kerk, ook die Nederduitsch Hervormde Kerk, belydend: Ek glo in die Heilige gees, ek glo aan ’n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges… Om so te bely, vra na die inhoud soos dit in Godswoord geopenbaar word. Dit vra na waarom die kerk so bely.
Genesis 1 bevat seker van die aangrypendste woorde in die Bybel en in die menslike lewensgang. Hier word die loflied van die gelowige gehoor. Wie God is, word geopenbaar. Dit is God se Gees wat oor die chaos sweef, en kenmerkend van die chaos, is dat dit woes en leeg is, dat duister heers. Enersyds is daar niks wat dit moontlik maak vir die mens om te bestaan nie, andersins is dit gehul in ondeurgrondelikheid, onpeilbaarheid. Maar die Gees van God sweef daaroor. Juis waar niks is, waar alles vervloei, is die Gees van God in vryheid, ongebonde.
Die sweef van die Gees oor die chaos heen beteken nie ’n doelloosheid nie, maar gaan die Woord van God vooraf. Die Gees en Woord se gang dra nie by tot chaos nie, maar lei tot sinvolheid, heilsaamheid en ’n gelowige siening van die werklikheid.
Soveel te meer blyk dit met Jesus Christus se kruisiging. Daar waar alles oënskynlik misluk, waar almal wegvlug of spottend uit die hoogte kyk, hoor ons Christus volgens Lukas: Vader, in u hande gee Ek my gees oor (Luk 23: 46). Die Gees is die een wat vry is waar chaos kom, maar die Gees van die Vader en die Seun omvorm die chaos tot orde, tot ’n bestaan wat sinvol voor God beleef word. Met hierdie hoopvolle belydenis staan die kerk in die wêreld.
Gesang 443
Dr Christo Pretorius, Pretoria / Wonderboom-Suid / Hervormde Teologiese Kollege