Jakobus 1: 27 (AFR2020)
Suiwer en onbesmette godsdiens voor God die Vader is om na weeskinders en weduwees in hulle nood om te sien, en om jouself vry te hou van die besoedeling van die wêreld (Jak 1: 27). Jakobus is ’n praktiese boek. Hy gee min ruimte vir vroom gepraat en baie ruimte vir konkrete dade. En hier, teen die einde van hoofstuk 1, definieer hy wat ware godsdiens is: om om te sien na weeskinders en weduwees in hulle nood.
Dit is ’n eenvoudige, maar diepgaande beskrywing. Dit sê nie dat ware godsdiens gaan oor ’n perfekte doktrine of indrukwekkende aanbidding nie – dit gaan oor liefde wat dien, veral teenoor die kwesbares. En weer staan die vaderlose kind in die middel van God se hart.
Die Griekse woord vir om te sien is aktief – dit beteken besoek, sorg, ingryp. Ware geloof is dus nie passief of kyk nie toe nie. Dit sien die kind sonder ’n pa en doen iets daaraan. Dit troos, ondersteun, gee leiding en bring hoop.
In ons gemeenskappe sien ons toenemend die gevolge van vaderloosheid: kinders met ’n identiteitstryd, jong mans sonder rigting of jong meisies op soek na bevestiging. Jakobus sê: Ware godsdiens laat dit nie net toe nie – dit tree in. Dit word ’n kanaal van God se liefde in aksie.
Maar die vers sê ook iets belangriks oor innerlike reinheid: ware godsdiens is nie net uiterlik aktief nie, dit is ook innerlik heilig. Ons moet ons onbesmet hou van die wêreld – nie omdat ons beter is nie, maar omdat ons anders is. En dit is juis daardie andersheid wat ons in staat stel om te dien soos Jesus sou.
Vir elkeen wat self die pyn van vaderloosheid ken, is hierdie vers ’n bevestiging dat God jou nie net raaksien nie, maar dat Hy ander roep om jou nood ernstig op te neem. En as jy self nou sterk staan, dan roep God jou: gaan en doen dieselfde.
Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid