Johannes 14: 1-12

Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.” (Joh 14: 6-7)

Die dissipels is bekommerd – ontsteld. Ontsteld om van Jesus te hoor dat Hy na al die jare dat Hy saam met hulle was, nou nie meer by hulle gaan wees nie. Na al die paaie wat hulle saamgeloop het en in Jesus se voetspore gestap het, sê Jesus dat Hy vooruit op hierdie pad gaan om vir hulle plek voor te berei in die huis van sy Vader. Die dissipels verstaan dit egter nie en sit met baie vrae…

Net soos die dissipels, sit ons ook soms met dié tipe vrae. Soos Tomas: Here, ons weet nie waarheen om te gaan nie… Soos Filippus: Here, wys ons net… en dit sal genoeg wees. Ons vra: Here, wys ons die weg… En dan kry ons vandag dieselfde antwoord met Jesus wat sê: Ek is – Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Ek is self die weg… die pad wat voorlê… die pad tot by die Vaderhuis…

En omdat ons as gelowiges deel het aan Jesus Christus, die Weg, is ons alreeds inwoners wat op reis is na die Vaderhuis. Waar ons eendag sal aankom en weet: Ek is nou tuis… Terwyl ons nog reisend is, kom ons jaag die waarheid na, kom ons jaag die ware lewe na – dit beteken gewoon: Reis saam met Jesus op die pad wat voorlê – die pelgrimstog van die lewe. Ons weet waarheen lei daardie pad… tot by die Vaderhuis… tot by ons tuiste.

Só sê die Here ook vir jou: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. Amen.

Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam