Handelinge 17: 22-35

’n Mens verwag amper dat die eerste Christene, waaronder Paulus, die Christelike boodskap sou aanpas om dit moontlik te maak dat die Romeine kan glo. Dalk sou hulle die sogenaamde skerp kante van die Jesus-gebeure wegskaaf om dit vir die Romeine aanvaarbaar te maak. Hulle doen dit egter nie. Hulle bly by die verleentheid van Jesus en van God se werk in en deur Jesus. Dit leer ons dat hierdie boodskap nie ’n filosofie, ’n teorie of ’n mooi ideaal is nie. Die evangelie lê in die geskiedkundige Goddelike daad van die opstanding van Jesus. Dit is wat mense moet kleinkry en vir hulself moet toe-eien.

Paulus deins nie terug vir die verleentheid waarin hy hom bevind nie. Hy word uitgedaag om op die grootste openbare verhoog sy standpunt te stel. Paulus kyk so na al die tempels en sien die desperate poging van mense om iets van die Goddelike te kan raakvat. Die God wat die wêreld gemaak het, die Here van die hemel en aarde, woon nie in tempels wat met mensehande gemaak is nie. Paulus gebruik die moontlikheid van die onbekende god om hul aandag te trek. Sy verleentheid word ’n geleentheid. Selfs die feit dat opstanding vir die Ateners onmoontlik is, stuit hom nie. Die opstanding wil nie bloot sê Jesus is God, of dat Hy besondere eienskappe het nie. Nee, veel meer: Met die opstanding van Jesus uit die dood het God se nuwe wêreldorde begin. Die opgestane liggaam van Jesus Christus is die eerste stukkie van die wêreld wat herstel is, wat reggestel is. Daarom is Jesus die Een deur wie die res van die wêreld reggestel sal word.

As ’n mens leer om na God se tydtafel te kyk, met Jesus se opstanding as die middelpunt, besef jy dat die lewende God hier en nou is soos nog altyd. Die verleentheid van ’n omgewing waarin ons beweeg wat nie werklik iets van God wil weet nie, word ons geleentheid om Hom te loof en sy Naam te leef.

Ds Heloïse Herbst, Rietvallei