Johannes 19: 17-42
Goeie Vrydag: ’n dag waarop ons die kruisiging, sterwe en begrafnis van ons Here Jesus herdenk. ’n Dag van nuwe betekenis: ons noem byvoorbeeld hierdie dag Goeie Vrydag, want ons weet dat die verhaal eindig nie hier nie.
Hierdie gedeelte het baie te sê het oor die bordjie wat bo Jesus se kop gehang het. Dit word met rede gedoen omdat die evangelieskrywer vir ons iets belangrik wil sê oor nuwe betekenis. Pilatus het opdrag gegee dat daar moet staan: Die koning van die Jode, maar die Jode wou dit nie só hê nie want dan lyk dit mos of Jesus alleen gekruisig word omdat Hy die koning van die Jode was – iets wat hulle juis nie wil hê die mense moet sê nie.
Juis op hierdie dag kies Pilatus dat hy nie na die Jode gaan luister wat so teen Jesus was nie, maar dat hy die bordjie gaan los met dit wat daar staan: Die koning van die Jode. Hoe waar en duidelik het dit toe nie deur die loop van dae gewys nie? Jesus wat aan die kruishout gehang het en die beskuldiging wat bokant Jesus se kop hang wat almal kon sien wat geensins eers ’n misdaad was nie. Gekruisig net omdat Hy die Koning is.
’n Bordjie wat teen die gierige en slinkse skrifgeleerdes, Fariseërs en priesterhoofde van die dag getuig het, wat van die bittere pyn vertel waardeur Jesus moes gaan, wat deur die eeue heen verkondig dat hierdie Koning die sondeskuld van die wêreld op Hom geneem het en daarvoor betaal het aan die kruis.
’n Bordjie wat die liefde van hierdie Koning duidelik uitspel: Jesus wat tot die uiterste gegaan het in sy liefde vir ons. ’n Bordjie wat ook sê dit was genoeg soos Jesus se woorde: Dit is volbring… ’n Bordjie wat sê die prys is ten volle betaal en ons lewe nie in skuld nie, maar deur die Here se genade: “Dit is volbring…”
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam