Johannes 4: 27-42

So ’n rukkie gelede het ek saam met iemand gaan koffie drink. Ek kan hom nie anders beskryf nie as iemand met ’n ontsaglike passie vir die Here. Maar hy sê dat hy so ’n rukkie terug rock bottom geslaan het. Op hierdie harde rots of laagtepunt wat hy met passie beskryf, het God hom ontmoet. Net soos die Samaritaanse vrou by die put van Jakob. En net soos die Samaritaanse vrou, moes hy sy kruik net daar neerlê en begin kyk na die oes op die lande.

Wanneer ons vandag kyk na die oes op die lande, dan lyk dit nie meer soos in die tyd van Jesus nie. Anders as die kerk wat ons altyd hoor eksponensieel krimp, gebeur eintlik die teenoorgestelde hier. Die oes is besig om eksponensieel toe te neem. Ek was altyd net 30 cm van die hemel af, vertel hy. Dit is die afstand tussen my hart en my kop, het hy verduidelik. Die probleem is dikwels dat ons net altyd daardie 30 cm tekortskiet.

My ma bly al baie lank in ’n grensdorpie aan die punt op die grens voor Mosambiek. Sy bel my eendag baie benoud. Sy sê: Pa wil “uncapped internet” installeer. Maar ek is eintlik ’n bietjie bang. ’n Bietjie bang. Dit is presies hoe ek my ontmoeting sou beskryf met hierdie ongebottelde passie van die charismaat. Ek is gewoond aan grense en lyne en strukture. Hierdie voel soos ’n mag wat ek nie ken nie. Ek wonder of dit nie presies is wat Jesus hier sê nie. Ons gaan mense nodig hê met ietsie van al twee: ongebottelde passie en rasioneel sterk.

Dalk het dit iets te doen met ongebottelde passie? Passie wat nie altyd wag nie, maar wat partykeer stoot en trek en kragte uitoefen op mense wat dink dat hulle net 30 cm van die hemel af is. Dalk het die charismaat dit reg en is hierdie eenvoudige Hervormer ook reg. Kyk daar. Kyk na die lande – hulle is ryp vir die oes.

Dr Hein Delport, Swartkop / Hervormde Teologiese Kollege