Handelinge 20: 17-38
Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun (Hand 20: 28).
Wat is ’n ouderling? Iemand wat gou voor Nagmaal kom kuier en praat oor die weer en politiek, ’n stukkie lees en oor drie maande weer kom? Nee, ouderlinge moet die kudde (gemeente) oppas wat die Heilige Gees onder hulle sorg gestel het. Ampsdraers word deur die Here self gegee vir sy gemeente en daarom behoort elke ouderling te besef watter groot verantwoordelikheid hierdie roeping en taak is wat van die Here af kom. Christus het ons losgekoop deur sy bloed, en beskerm en regeer oor sy kerk. Hy gee om vir sy bruid en pas haar baie mooi op – daarom gee die Here ouderlinge om die hele kudde op te pas. Die ouderlinge van Efese word hieraan herinner deur Paulus se besoek in Handelinge 20.
Ouderlinge moet veral waaksaam wees teenoor dié wat wil indring en leuens vertel. Hulle moet toesig hou dat die evangelie suiwer verkondig word in die kerk en self ook die evangelie saam met die predikante verkondig. In die bevestigingsformulier word dit uitgelig dat ouderlinge geroep word om die gemeente te regeer en te versorg deur die Woord van God. Dit is belangrik dat elkeen wat opgeroep word vir die taak as ouderling, dit werklik sal besef en dit onder leiding van die Gees sal uitvoer.
Dit is ’n besonder belangrike maar ook moeilike taak. Daarom herinner Paulus die ampsdraers van Efese dat hulle nie self in staat is om die gemeente op te bou nie. Slegs die Here kan dit doen. Ampsdraers het ’n belangrike en verantwoordelike taak, maar die gemeente bly die Here se eiendom. Die Here gebruik mense, maar dit bly sy saak, Hy sorg vir sy gemeente. Roep die Here jou dalk om sy kudde te help oppas?
Bid vir die ouderlinge van ons kerk en dat die Here ampsdraers sal voorsien om sy kerk op te bou en te regeer. Amen.
Ds Henk Labuschagne, Silverton