Genesis 16: 1-16
Hagar is ’n swanger meisie in die woestyn. Haar jong en ongelukkige lewe is op ’n absolute laagtepunt. Haar lewensgeskiedenis tot op hierdie punt lees soos ’n nagmerrie: As jong, waarskynlik tienermeisie, deur haar Egiptiese ouers aan die vermoënde Abraham verkoop. Vir die mense wat haar moes liefhê, beskerm en vertroetel, was sy maar bloot ’n voorwerp wat ’n groot som geld werd was. Verder is sy deur haar nuwe eienaars, Abraham en Sarai, as ’n besitting behandel. Haar vermoë om ’n kind in die wêreld te bring haar enigste doel.
So is Hagar in die woestyn: haar verlede verskriklik, haar toekoms uitsigloos. Voor haar Iê ongenaakbare kilometers te voet deur die woestyn op pad terug na haar geboorteland. Daar sal sy waarskynlik nie goed ontvang word nie, want ’n slavin wat wegloop van wettige eienaars, het ’n ernstige oortreding begaan. Haar lewensverhaal net nog ’n bewys van die soms wrede manier hoe mense teenoor mekaar kan optree.
Maar dan kruis die Here haar pad en alles verander. Daar in die mees onwaarskynlike van alle plekke, die woestyn, word daar vir Hagar ’n nuwe lewe gebore. Die Here gee raad en Hy het ’n plan met haar lewe. Dan Hagar se betekenisvolle uitroep: Uiteindelik word ek raakgesien. Erken. En met respek behandel.
Ons beland soms ook in die vreeslikste omstandighede. Dit het dikwels met ons verhoudings te make. Die verlate gevoel, ek word nie raakgesien, waardeer en liefgehê nie. Maar dan is daar nog altyd God. Die God wat ons raaksien en wat raad het met die moeilike woestyne van ons lewens. Ook ons sal gereeld vind ons aanbid die God wat ons raaksien omdat Hy ons lief het.
Gebed
Dankie dat U die Here is wat my altyd raaksien, ook as ek verstote en verlate van almal voel. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort