Kolossense 3: 5-17

Die natuur beweeg elke jaar deur vier bekende seisoene – herfs, winter, lente en somer. Elke seisoen bring verandering: blare begin val in die herfs, alles raak vaal as gevolg van die koue in die winter, nuwe lote begin later bot in die lente, en uiteindelik floreer die lewe weer volop in die somer. Hierdie ritme herinner ons aan die geloofsreis waarop Jesus ons lei.

Wanneer die herfs aanbreek, is dit asof die skepping self besig is om te laat gaan. Die blare wat val, bring ’n stille boodskap: daar is dinge wat moet sterf. Kolossense 3: 5-17 roep ons op om sonde af te lê soos ’n boom wat sy blare verloor – sonde soos hoogmoed, leuens, afguns, losbandigheid en verdeeldheid. Christus het aarde toe gekom om juis daardie ou natuur te vernietig, sodat ons nuut kan word.

Winter is die tyd van wag en voorbereiding. Die boom staan kaal, maar is nie werklik dood nie. So word ons in Christus geroep om ons ou self te laat sterf en tyd te neem vir geestelike vernuwing – ’n tyd van stilte waarin God ons voorberei vir nuwe lewe.

Dan kom die lente. Nuwe lote breek deur, blomme begin oopgaan en voëls keer terug van hulle lang reis. Dit is die belofte van herstel en hoop. Net so wek Christus ons op tot ’n nuwe lewe met medelye, nederigheid, sagmoedigheid en liefde as nuwe blare van geloof.

Somer bring volheid – vrugte, lewe, oorvloed. In Christus dra ons dan ook vrug: liefde, vrede en dankbaarheid. Soos Kolossense 3: 15 sê: Wees altyd dankbaar. Nie net vir wat ons ontvang nie, maar omdat Christus self ons lewe geword het.

Geliefdes, mag óns in elke geestelike seisoen onthou: Jesus het aarde toe gekom om ons te vernuwe. Laat ons dan leef as nuwe mense – met ons harte gevul met sy vrede en lewens wat sy liefde na ander uitstraal.

Ds Tanya Maartens, Klerksdorp-Wilkoppies