Handelinge 2: 37-47

Dit is ongelukkig so dat verskillende kerke een of twee van die vier elemente partykeer oorbeklemtoon en die ander bietjie eenkant toe skuif. In die Hervormde Kerk was ons soms geneig om die saak van beperkte verkondiging uit te lig as die belangrikste. In charismatiese en ander groepe gaan dit weer baie sterk oor die sorg vir mekaar – koinonia. Die Wêreldraad van Kerke en die Social Gospel maak asof die diens of diakonia die heel belangrikste is. Ander sektariese groepe lê weer sterk klem op die emosionele ervaring van geloof, en daarom is die leitourgia vir hulle die belangrikste.

Maar om regtig kerk te wees, kan ’n mens nie een van hierdie aspekte verwaarloos nie. Jy kan nie kerk wees as jy nie verkondig nie. Terselfdertyd kan jy ook nie kerk wees as jy nie vir mekaar as gelowiges sorg nie. Jy kan ook nie kerk wees as jy nie bereid is om partykeer jou trots in jou sak te steek en vernederende dinge ter wille van ander te doen nie. Net so kan jy ook nie kerk wees as jy nie bereid is om God te bely en te aanbid op allerhande verskillende maniere nie.

In ons Kerk was ons in die verlede geneig om al vier hierdie aspekte van kerkwees heelwat af te water. Ons het maklik al hierdie dinge aan die ampte oorgelaat. Dit is die dominee se werk om te preek; die ouderlinge kom so iewers tussen verkondig en sorg in die prentjie; die diakens moet die diens doen – die diakonie behartig en die mense in die gemeente kan nie sing nie, of praat nie oor hul geloof nie. In werklikheid, broers en susters, behoort al vier hierdie elemente van kerkwees ter sprake te kom in alles wat ons doen. Nie in alles wat die ander mense in die gemeente doen nie – in alles wat ek en jy doen; in alles wat in die gemeente gebeur.

Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend