Psalm 32: 8-11
Noudat die digter sy skuld en sonde bely het, kan daar weer spontane gebed intree. Die spanning toe hy nie die Here se wil gedoen het nie, is weg. Hy kan nou weer in gehoorsaamheid en toewyding aan die Here leef. Hy wil ook medegelowiges help om dieselfde te doen en wil hulle met liefde leiding gee.
Hy moedig ander mense aan om aan te hou bid en op die Here te vertrou. Hulle moenie onverstandig wees nie want dit bring vir hulle baie pyn, smart en hartseer.
Hy sê dit sal met hulle goed gaan as hulle by die waarheid hou en hul skuld opreg bely. Hy erken dat die regte pad soms ’n moeilike pad kan wees. Uit sy eie ondervinding wil hy hulle leer en insig gee sodat hulle nie aan die sondige wêreld gelyk word nie. Die Here wil hom in liefde oor hulle ontferm. Wanneer hulle die hand van liefde van God sien, sal hulle jubel en juig.
Die goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou,
dié omvou Hy met sy liefde (Ps 32: 10).
Verbly julle in die Here en juig,
regverdiges,
jubel, alle opregtes (Ps 32: 11).
Jesus Christus het die skuld in ons plek gedra. Hy leef en laat ons leef. Ons laat God dan toe om ons denke te vernuwe. Hy lei en leer ons dat ons sy wil kan ken en weet wat reg is. Ons wag dan vir die Here om dit aan ons bekend te maak. Dit is die nuwe lewe wat ons nou in Christus het.
Daarom verslap ons ook nie in ons toewyding nie en dien die Here:
Verbly julle in die hoop;
staan vas in die verdrukking;
volhard in gebed (Rom 12: 12).
Ds Kotie Mc Donald, Emeritus