Psalm 39
Waarom doen die kerk voorbidding vir ’n spesifieke saak soos byvoorbeeld dat dit sal reën? Is die Here nie tog alreeds bewus van ons behoeftes nie? Kom ons kyk na Psalm 39 waarin die saak van voorbidding ter sprake is. Die tema van die verganklikheid van die mens en die tydelikheid van die lewe vind ons regdeur die psalm.
Die mens sal altyd ’n afhanklike wese wees, altyd weerloos en in ’n sekere sin uitgelewer. Die psalmdigter stel naamlik: …ek is op u beskerming aangewese…U alleen sorg vir my… en gaan dan voort om voorbidding te doen.
Wat ons egter duidelik in die psalm moet raaklees, is hoe die digter die saak van voorbidding ter sprake bring: Die eerste is dat die voorbidder dit net kan doen vanuit ’n lewende verhouding teenoor God en ’n lewe van toewyding aan God. Dit is omdat die gelowige God ken dat daar ’n vrymoedigheid is om te bid en te vra. Die tweede is dat die voorbidder ook erns maak met sy sonde voor die Here – die psalm begin en eindig met ’n skuldbelydenis.
As ons dan weer saam met die kerk om ’n spesifieke saak kom voorbidding doen, behoort ons onsself te vra terwyl ons voor die Here kom kniel in afhanklikheid. Leef ons ook ’n lewe wat aan God toegewy is en maak ons erns met ons sonde?
Soos die psalmdigter terwyl ons vra: Hoor tog ons gebed, Here…, ook in dieselfde asem bid: …neem tog u straf van my weg… en ook soos die skrywer onderneem, …ek wil nou sorgvuldig let op hoe ek lewe…
Gebed
Here, ons bring ons nood en behoeftes na U en doen voorbidding. Help ons ook Here om ons sonde te erken en te bely en elke dag volkome toegewy aan U te lewe.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort