Vanjaar se VTT, My roeping vir die Noordwesstreek, is op 21 en 22 Augustus by die Venterskroonkampterrein aangebied onder die bekwame leiding van ds Willem Kok, die streekverteenwoordiger, en dr Marina Kok-Pretorius namens Gemeente Potchefstroom. Die aanbieders was drr Annelie Botha en Johan Bester.
Gedurende die twee dae het 18 kollegas die VTT bygewoon. Op die eerste aand na ’n heerlike dag se werk, is daar saam vleis gebraai en ontspan.
Uit die reaksie, vrae en saamgesels is dit duidelik dat die tema die belangstelling geprikkel het. Telkens moes die gesprek gestop word om na die volgende video te kyk. Die VTT is volgens vier temas ingedeel met video-insette van verskeie dosente:
- Hoe verstaan ons roeping?
- Twee kollegas deel hul roepingsverhale.
- Uitdagings en veerkragtigheid.
- Lewe jou roeping, asook ’n paneelbespreking van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening onder leiding van ds Janine Bevolo-Manders met die titel: Kweek ’n roepingsbesef by jou lidmate. Hierdie video is al meer as 90 keer gekyk op die HTK se YouTube-kanaal.
’n Jonger kollega se kommentaar: Baie dankie vir die lekker VTT. Heerlik om almal te sien, bande op te tel en ander te leer ken. Die gesprekke en aanbiedinge was baie interessant en goed. Dankie vir die heerlike kos en dit is ’n pragtige kampterrein. Seëngroete.
Nog kommentaar: Dit was ’n verrykende ervaring. Dit was ook lekker om saam te kuier. Dankie aan Johan en Annelie vir die aanbieding. Dit was goed om onbevange oor die tema gesprek te voer. Groete en seën met julle dienswerk as geroepenes van ons Here en Verlosser.
Een van die emeriti skryf soos volg: Ek wil net sê dat die VTT een van die hoogtepunte van my aftrede was. Geluk eerstens met ’n uitstekende vernuwing en opgradering van Venterskroon. Dis ’n monument waarop jy trots kan wees. Die VTT was baie goed en nodig vir ons wat ouer is. Dit laat jou jou opleiding waardeer en stel ’n mens bekend aan hoe dit vandag gebeur. Dit het my diep laat nadink oor my roeping, maar ook laat besef dat daar nuwe uitdagings is.
Venterskroonkampterrein is geleë op die eertydse Gemeente Venterskroon se eiendom in die Vredefortkoepel. Die gemeente is in 1888 gestig en het in 2014 ontbind. Dit maak die gemeente een van die oudstes in die Kerk. Die oudste gemeente in die ou Transvaal is Potchefstroom wat op 3 Maart 1842 gestig is. Die terrein word sedert 1975 as kampterrein van die Kerk gebruik. Gemeente Potchefstroom het die eiendom in 2014 oorgeneem en verder ontwikkel tot die standaarde van vandag. Die eerste groep in die nuwe kampterrein het einde Augustus 2015 hul intrek geneem. Die kampterrein het 146 beddens, met tussen 80% en 100% okkupasie.
Beskikbare akkommodasie sluit onder andere die volgende in:
- Ses slaaplokale met 20 beddens. Elke slaaplokaal het sy eie badkamer.
- Drie houthutte wat slaapplek vir ses persone bied.
- Vier kamers met eie badkamers waarin vier persone in elke kamer kan slaap.
- Ablusiegeriewe vir seuns en dogters.
- ’n Goedtoegeruste kombuis en saal wat beskikbaar is vir kampeerders.
- Fasilitering vir groepe is beskikbaar, wat alle etes en verskillende aktiwiteite insluit.
Die ou saal word tans as eetsaal gebruik en ’n nuwe saal is sedert 2014 aangebou. Die kerkgebou word gebruik as kerk/kapel. Gaan kyk gerus op die webblad www.nhkpotch.co.za vir meer foto’s van die kampterrein.
Dit is en bly ’n groot voorreg om so saam met kollegas te dink en te praat oor ons roeping in God se koninkryk.
(Dr Johan Bester is predikant van Gemeente Randfontein Midpark en betrokke by die SGB)
