As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. (Kolossense 3: 1-2, AFR2020)
Elkeen van ons stel vir onsself ’n prentjie van die hemel voor. Die meeste van ons dink onmiddellik aan ’n plek. ’n Lekker plek. ’n Plek waar ons almal graag sou wou wees. Wuiwende palmbome, goue strande en vrede. Geluksaligheid. Ander van ons sien weer die hemel as ’n plek waar ons weer die mense vir wie ons lief is en wat nie meer met ons is nie, sal ontmoet. Sonder kanker, sonder spore van ouderdom, sonder ’n stukkende liggaam. Die hemel is vir baie ’n plek waar ons die Here sal sien. Ons stel vir onsself ’n Kinderbybel-prentjie voor waar Jesus met lang hare en ’n wit kleed ons sal omhels. Ons sal almal by sy voete sit en luister na al sy wyshede.
Baie van ons het die prentjie van ’n plek iewers daarbo in die lug, iewers tussen die sterre. Hoe versoen ons die wêreldbeeld van die Bybel met ons eie denke? Ons dink tog lankal nie meer dat die aarde ’n plat skyf is wat op pilare staan, dat die waters onder die aarde is en die hemel bo wat soos ’n tentdoek bo-oor die aarde gespan is nie? Ons weet tog dat die aarde rond is, om sy eie as draai en rondom die son wentel – dat ons aarde maar ’n ou stippeltjie in ’n enorme groot hemelruim is. Daar word vertel dat die eerste ruimtevaarder, Yuri Gagarin, na sy besoek aan die ruimte in 1961 gesê het: Ek het oral vir God en die hemel gesoek, maar ek het niks of niemand gesien nie.
Waarheen het Jesus dan gegaan? Niemand kon al met ’n teleskoop of satelliete iewers ’n hemel afneem nie. Ons verstaan nie die hemel nie want ons wil dit vaspen, die GPS-koördinate neerskryf. Die dissipels wou dit ook doen. Op Tomas se vraag waar die plek is waarheen Jesus gaan (Joh 14: 5), antwoord Jesus: Tomas, my Vader is die plek waarheen Ek gaan en Ek is die pad na Hom toe. Hemel is God se teenwoordigheid. Altyd. Oral. In Jesus kom God en mens, tyd en ewigheid bymekaar. In Jesus word God se teenwoordigheid sigbaar.
Kolossense 3: 1-2 sê dat iets met ons moet gebeur as ons dit begin verstaan. As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. Soos Christus die Hemel na ons toe gebring het, moet ons ook die Hemel na ander mense toe bring. ’n Stukkie Hemel op aarde is die bewuswording van God se teenwoordigheid. Dis om mense te laat verstaan dat daar ’n God van liefde is. Dis om mense se oë oop te maak om oral God se genade te sien. Dis om mense se ore oop te maak om op onverwagte plekke God se stem te hoor. Hemel is daar waar ons moeite doen om God se skepping op te pas. Hemel is daar waar ons die skoonheid van God se skepping waardeer. Hemel is nie daar waar ons eendag ’n Jesus met lang hare en ’n wit kleed gaan sien nie. Ons sien daagliks die Here se gesig as ons ons broers en susters raaksien.
Mag ons stukkies van die Hemel uitdeel waar ons praat, leef en werk. Ons leef die dinge wat daarbo is! Ons maak die Hemel sigbaar!
