Die Hervormde Kerk beleef die afgelope dekades ongekende verliese aan lidmate. Wat sou die redes daarvoor wees? Dit is opvallend dat hierdie nie net ’n verskynsel in die Hervormde Kerk in Suid-Afrika is nie. Wêreldwyd is tradisionele hoofstroomkerke besig om te krimp. Baie navorsing is al oor die verskynsel gedoen en dalk is nog meer navorsing nodig. Vir ons gesprek binne die Hervormde Kerk is dit dalk nodig om perspektief op hierdie ongekende verlies te kry.

Wat hier volg, is ’n opsomming van moontlike redes waarom hoofstroomkerke wêreldwyd in getalle krimp. Hierdie lys is nie ’n versadigde lys nie, en sou nog aangevul kon word.

Redes vir die verlies aan lidmate kan in drie breë kategorieë verdeel word:

  • Natuurlike slytasie.
  • Eksterne oorsake.
  • Selfvernietiging

Binne ’n Suid-Afrikaanse konteks is verskeie kombinasies van faktore moontlik.

Natuurlike slytasie

Hierdie kategorie bestaan uit faktore wat ’n natuurlike proses beskryf waaroor die kerk min of geen beheer het.

  • Lae geboortesyfers: Lae bevolkingsgroei in sommige lande beïnvloed die kerkgetalle. Die geboortesyfer onder blanke Afrikaners (die tradisionele bron waaruit lidmate vir die NHKA kom), is 1,5 geboortes teenoor die gemiddelde geboortesyfer in Suid-Afrika van 2,33. Die natuurlike aanwas van die potensiële lidmate van die NHKA is dus besig om te kwyn. Talle kerke sien die groei van 1,5 geboortes as net te laag om die bestaande lidmaattal van die kerk in stand te hou.
  • Migrasie: Talle Suid-Afrikaners emigreer. Dit sluit lidmate van talle kerke in, ook die Hervormde Kerk. Die impak van hierdie massamigrasie is sigbaar in gemeentes se lidmaattalle. Wêreldwyd geskied die verplasing van bevolkings van landelike na stedelike kontekse. Verstedeliking ontwrig en lei tot die ontbinding van kerkgemeenskappe. Natuurlik is daar ook in Suid-Afrika massamigrasie van die platteland na die stede. Dit beteken egter nie dat lidmate van die platteland weer by stedelike gemeentes inskakel nie. In 2018 was die stedelike bevolking van Suid-Afrika 66%. In 2022 was die stedelike bevolking 68%. Meer as tweederdes van Suid-Afrika se bevolking woon dus in stede. Kerke op die platteland beleef dus ’n groot verlies aan lidmate.
  • “Natuurlike dood”: Indien die kerk as ’n organisme of ’n liggaam verstaan word, moet aanvaar word dat inkrimping en afsterwe net so deel is van die kerk se bestaan as groei en uitbou. Die implikasie is dat die kerk ook ’n leeftyd het. Wat ons nou sien, is die bejaarde kerk wat ’n natuurlike dood sterf. Die kerk verouder, verswak, en sukkel om te oorleef in veranderende omstandighede. Dinosourusse sou nie in vandag se wêreld oorleef nie – so ook nie ’n bejaarde kerk nie. Wanneer ek hier oor kerk praat, dan bedoel ek die historiese kerk met ’n stigtersdatum en geskiedenis. Die Kerk van Christus is iets anders. Dit sou beter wees om eerder te praat van die Koninkryk van God teenoor die aardse kerk. Die Koninkryk is ewig, die aardse uitdrukkings van die kerk egter nie.

Eksterne oorsake

’n Aantal gebeurlikhede en tendense in die wêreld affekteer die groei en bestaan van die kerk. In hierdie kategorie word faktore gelys wat die kerk objektief van buite beïnvloed. ’n Tipiese voorbeeld is die Covid-19-epidemie wat ontwrigtend op kerkbyeenkomste ingewerk het.

  • Sekularisasie: In baie lande is dit opmerklik dat mense al hoe meer sekulêr en minder godsdienstig is. Sekularisasie kan verskillend interpreteer word. Dit kan verwys na die marginalisering en verdwyning van godsdiens. Godsdiens (insluitend die Christendom) word uit die publieke oog na die kant van die samelewing geskuif. Godsdiens het nie meer seggenskap in die openbaar nie. Hierdie invloed is ook in die Suid-Afrikaanse samelewing sigbaar. Die gety teen godsdiens en die Christendom het gedraai.
  • Fragmentasie en pluralisme: Deel van sekularisasie is dat om ’n Christen te wees, net nog ’n opsie is naas die talle opsies van ander godsdienste en selfs die opsie om aan geen godsdiens te behoort. Mense het die toenemende vryheid om te kan kies tussen verskillende godsdienstradisies. Godsdienste ervaar gelyke regte en daarom geniet die Christendom nie meer ’n bevoorregte posisie nie.
  • Veranderende gesinsrolle en waardes: Kerklike standpunte oor sake soos LGBTQ+ en geslagsgelykheid stem nie altyd ooreen met die moderne waardes nie. Daar bestaan ’n openheid in die samelewing om gemarginaliseerdes te akkommodeer en deel te maak van die samelewing. Enige teenkanting en beswaar teen hierdie inklusiwiteit word geïnterpreteer as veroordeling en uitsluiting. Die kerk (soms mense in die Hervormde Kerk) is aan hierdie veroordeling skuldig.
  • Groei van Nones: Baie jongmense vind hoofstroomkerke oninteressant en ontoeganklik. Meer jong mense identifiseer hulself as nie-godsdienstig of ateïsties. ’n Nuwe generasie verkies om nie met enige godsdiens te identifiseer nie. Hierdie groep wat aandui hulle het none religion, staan bekend as die Nones. Hierdie groep groei ook in Suid-Afrika.
  • Alternatiewe spiritualiteit: Wêreldwyd is die tendens dat meer mense individualistiese spirituele benaderings verkies. Mense wil self kies hoe en wat hulle glo. Niemand hou tog daarvan om voorgeskryf te word wat om te glo nie. Die gevolg is ’n supermark-mentaliteit waar mense kies om byvoorbeeld joga en meditasie (van Oosterse oorsprong) te kombineer met sang en gebed (tipiese Westerse godsdienspraktyke). Die tradisionele kerke voorsien nie in die behoefte aan alternatiewe style van aanbidding nie.
  • ’n Mondige kultuur: Die postmoderne tydgees het die klem op die individu se vermoë en onafhanklikheid geplaas. Daarmee saam het die Vierde Industriële Revolusie toegang tot inligting aan ’n menigte mense gegee. Enigeen kan hulself nou as ’n ekspert op enige terrein uitgee. Elke mens het toegang tot die internet en bronne van inligting. Hierdie mondige kultuur benodig nie meer die tradisionele eksperts (soos byvoorbeeld dominees en dokters) wat eens die draers van kennis was nie. Ek kan my eie siekte diagnoseer en self die Bybel uitlê. Die klag is dat die kerk oorbodig is en in elke geval net jou geld wil hê.
  • ’n Nuwe wêreldtydgees: Ons leef in ’n tyd gekenmerk deur vyandigheid teenoor die Christendom en selfs teenoor al wat godsdiens is. Die tyd toe die Christendom die dominante pasaangeër vir denke en lewenswyse was, is verby. Die Christendom word juis nou beskuldig dat dit booshede soos kolonialisme, kapitalisme en aardverwarming aangebring het. Dit het uit die mode geraak om ’n Christen te wees en kerk toe te gaan.

Selfvernietiging

Hierdie kategorie beskryf faktore waarvoor die kerk self verantwoordelik is. Alhoewel nie al die faktore op die Hervormde Kerk van toepassing is nie, dra die etikette op die kerk daartoe by dat die reputasie van alle kerke wêreldwyd skade ly.

  • Skandale en wantroue: Openbaarmakings van wangedrag, soos kindermolestering waaraan die kerk skuldig is, het vertroue in kerkinstellings geskaad. Wanneer die kerk die gemeenskap teleurstel met uitlatings, optrede of die gebrek daaraan, is dit ’n onuitwisbare klad op die kerk. In die Hervormde Kerk het die kerkskeuringsage ’n onuitwisbare klad op die Kerk gelaat en mense met wantroue in die Kerk gelaat. Mense word ontnugter oor die aard van kerkwees. Die kerk is toe nie ’n suiwer, vroom en edel plek nie.
  • Gebrek aan relevansie: Talle mense sien die kerk as outyds en nie meer relevant vir hul bestaan nie. Hier is twee standpunte: Die wêreld beskou die kerk as irrelevant; of die kerk gedra dit irrelevant. Wanneer prediking en teologisering nie aandag gee aan die nood van die wêreld nie, word die kerk beskou as uit voeling met die leefwêreld van lidmate. Die prediking en teologisering kan eweneens te hoog (onverstaanbaar) of te laag (oppervlakkig) wees en sodoende lidmate vervreem.
  • Fundamentalisme: Die manier hoe lidmate soek na geloofsantwoorde wat sekerheid gee, maak dat lidmate ontevrede is met die kerk se antwoorde wat nóg kant nóg wal raak. Lidmate verwag klinkklare antwoorde wat op die Bybel gebaseer is. Soms is dit lidmate se verwagting dat die kerk klinkklare antwoorde moet gee en soms is dit die kerk wat reageer met fundamentalistiese antwoorde op lewenskwessies. Hoe dit ook al sy, fundamentalisme gee die kerk ’n knou.
  • Self-sekularisasie: Die kerk dra soms self daartoe by dat die kerk gesekulariseerd voorkom. Dit gebeur onder andere met die vervlakking in teologie, die vermenging van kategorieë (byvoorbeeld besigheidsbeginsels toegepas op kerkbestuur), en die aanpas van kerklike taal om wêreldvriendelik voor te kom. Hierdie aspek hou verband met die beswaar dat die kerk irrelevant is.
  • Nominalisme: Hierdie faktor verwys na die verskynsel dat talle mense aandui hulle is deel van die kerk, maar daar is geen kerklike betrokkenheid nie. Dit is veral in Suid-Afrika akuut wanneer by die 85% van die bevolking aandui dat hulle aan die Christendom behoort. Baie van hierdie persone is slegs in naam Christen. Dieselfde gebeur in die Hervormde Kerk wanneer lidmate erken hulle is deel van die Kerk, maar van kerklike deelname en betrokkenheid is daar weinig of geen sprake.

Hierdie lys van faktore verteenwoordig talle moontlike redes waarom tradisionele kerke wêreldwyd ’n afname in kerklike lidmaattal beleef. Hierdie lys is nie volledig nie en ook nie outomaties van toepassing op alle gemeentes van die Hervormde Kerk nie. Dalk sal sommige faktore ’n groter rol in sommige kontekste speel.

Daar is natuurlik ’n ander kant van die munt ook: Wat sou die redes wees dat sommige kerke in Suid-Afrika groei? Die implikasie is dat ons nie moet dink dat wanneer mense die kerk verlaat, hulle totaal en al ongelowig word nie. Inteendeel, talle kerke beleef ’n toename in lidmaatgetalle. Wat sou die redes daarvoor wees? Dié vraag regverdig ’n nuwe bespreking.

 (Prof Jaco Beyers is adjunkdekaan van UP se Fakulteit Teologie en Religie,
hoof van die Departement Godsdiensstudies, en deeltydse leraar in Gemeente Centurion-Oos.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap