vriende, medesterwendes,
moenie huiwer nie; nou hang die lewe
nog soos vlees om ons lywe
maar die dood beskaam nie;
kom saam
in my sterf, in my na my vader gaan
laat ons sterf en vergaan en vrolik wees:
mý vader het ’n groot bôrdienghuis
(Breyten Breytenbach)
Dié woorde van Breyten lees ek die dag wat die Hervormde Kerk verneem het dat Andries van Aarde oorlede is. Die vorige dag is dié bekende digter oorlede en ek het sy gedigte oor die dood weer gaan oplees soos dit onder andere in die versamelbundel, Die lewe is ’n asem lank, verskyn het. Breyten se woorde was vars in my geheue en daarom het ek hom met die bogenoemde uittreksel aangehaal om op ’n publieke forum aan Andries van Aarde hulde te bring. Later die dag kry ek ’n stukkie kommentaar van ’n leser oor die aanhaling. Dié spesifieke leser wonder darem of Andries in die lewe na die dood geglo het. Vir ’n oomblik is ek stomgeslaan. Geen een mens kan ’n ander volledig ken nie. Soos vele ander het ek professor Andries van Aarde as student en later vir Andries, as kollega en buurman op kantoor, leer ken. Vanuit dit wat vir my gegee is om oor Andries van Aarde te weet, sou ek kon getuig dat wat ek van hom gesien en gehoor het van ’n kinderlike geloof gespreek het. Wat dit alles behels sou ’n saak tussen Andries en God gewees het. Sy geloof was egter ook kompleks, met vele nuanses – soos ons almal s’n. Om geloof te bely in die God wie se teenwoordigheid ons kan aanvoel, maar wat ons nie kan sien nie is per implikasie ’n komplekse saak. Daarom was ek effens onkant gevang deur die leser se kommentaar. Aan die ander kant was die kommentaar heeltemal verstaanbaar: Andries van Aarde was op ’n manier volksbesit. Hy het homself byna volledig in diens gestel van elkeen wat ’n spreekwoordelike nagdissipel was. Hier verwys ek na Ferdinand Deist se beskrywing van mense wat graag wil glo, maar sukkel om sonder vrae te glo. Andries van Aarde was ook in diens van elkeen wat die algemene kerk liefgehad het. Daarvan het die vele besoekers aan sy kantoor by die universiteit getuig. Hy was verder ook in diens van elkeen wat leergierig was, en selfs in diens van dié wat heftig met hom verskil het. Hy was ’n wêreldbekende teoloog en ek sou hierdie hele huldeblyk net kon wy aan sy akademiese prestasies – aan die byna ontelbare artikels en hoofstukke wat hy geskryf het, sy internasionale aansien in die vakgebied van Nuwe Testament, en die onmeetbare aantal ure van sy lewe wat hy aan die vaktydskrif HTS Teologiese Studies gewy het.
Vir ons in die Hervormde Kerk was hy egter op ’n ander manier óns s’n: ten goede en ten kwade. Andries het rye en rye predikante van teologiese advies bedien, hy het vir jong akademici paaie oopgemaak en geduldig deur hulle eerste akademiese skryfpogings gelees, en in verskillende tye het die Algemene Kommissie van die Hervormde Kerk hom genader om hulle van akademiese en ekumeniese advies te bedien. Eweveel het Andries ook soms onder die Hervormde Kerk deurgeloop: daar was dikwels sterk opinies oor sy teologie, veral die inklusiewe aard daarvan. Andries het egter altyd die weg van liefde gekies. Vir hom was “liefde die grootste”, net soos die apostel Paulus (vir wie hy baie lief was) in 1 Korintiërs 13 geskryf het. Trouens, Andries het daaroor geskryf in ’n akademiese hoofstuk wat in 2017 gepubliseer is: Ecodomy: Life in its fullness – if love rules the oikoumenē (Lewe in volheid: As liefde die bewoonde wêreld sou deurdrenk; my interpretatiewe vertaling). In oomblikke waar die Hervormde Kerk voor ’n kruispad te staan gekom het, het Andries sterk oortuigings gehad en hy het nie gehuiwer om dit te deel nie. Vir sommige was dit té veel, té vinnig. Ander het dit juis waardeer, omdat dit vir hulle iets van die kerk se roeping verwesenlik het. Dit is tog uiteindelik die punt: of ons met hom saamgestem het of nie, Andries van Aarde het diep spore in die Hervormde Kerk gelaat.
’n Paar jaar nadat my eie akademiese loopbaan begin het, het Andries eendag met my gepraat oor die gewete van die K(k)erk – kerk met ’n kleinletter vir die algemene Christelike kerk, en Kerk met ’n hoofletter in verwysing na ons eie kring: die NHK. As ek nou terugkyk, is dit moontlik dat hy vir ons almal ’n tipe spieël voorgehou het. Vir my het laasgenoemde veral geblyk uit sy solidariteit met vroue in kerk en samelewing. Hy het dikwels die uitdrukking “tussen ons meisies” gebruik. Ek moet ’n oomblik hier stilstaan en verduidelik, want dit is belangrik. Andries se nalatenskap ten opsigte van vroue en gender vereis dit en as ek dit nie hier skryf nie, gaan dit in die vergetelheid verdwyn. Die uitdrukking, “tussen ons meisies”, word ongelukkig soms op ’n pejoratiewe (negatiewe, en stereotiperende wyse) in verband gebring met “skinder”. Dit is een van die vele stereotipes in algemene spreektaal wat vroue moet verduur, soos byvoorbeeld dat wanneer iemand ’n bal skop of gooi “soos ’n meisie” (to throw like a girl), dit ’n swak of halfhartige skop/gooi is. Wanneer Andries van Aarde die uitdrukking “tussen ons meisies” gebruik het, was dit altyd ’n teken van sy absolute en onbetwisbare solidariteit met vroue en die saak van vroue. Andries was ’n feminis. Anders as wat soms geglo word, is ’n feminis nie iemand wat mans haat nie. Dit is ’n negatiewe stereotipering. ’n Feminis is iemand wat vroue soos mense behandel – openlik en met waardigheid – en nie op ’n versteekte neerbuigende manier nie. Andries van Aarde het vroue soos sy gelyke behandel en dit is geen geringe saak nie. Hy het onverpoos vir die K(k)erk ’n spieël vasgehou wat vroue aanbetref. Sy solidariteit met vroue was ’n doelbewuste handeling om nie namens hulle (ons) te praat nie, maar hulle te bemagtig om self te praat. Hy het iets verstaan van hoe dit lyk en voel as iemand jou “per ongeluk” of “nie met voorbedagte rade” nie, “miskyk” – keer op keer.
In 1995 het hy ’n artikel gepubliseer oor die menslikheid van en die verskeidenheid in die kerk. Terugskouend is dit die twee uitstaande kenmerke van sy teologiese voetspore: ’n onwrikbare oortuiging van die K(k)erk se roeping om genadig te wees, en weerloosheid – soos Jesus – tegemoet te gaan. Weerloosheid impliseer nie swakheid nie en miskien was dit Andries se manier om die Kerk teen die gevaar van mag te waarsku. Sy ander voetspoor was sy oortuiging dat die ander deel van die K(k)erk se roeping radikale inklusiwiteit behels en dat daar ’n voortdurende aanspraak op die K(k)erk is om verskeidenheid te waardeer, en te versoen. Andries van Aarde het die eeueoue belydenis van die karakter van die een, heilige, algemene, katolieke (Christelike) kerk uitgeleef, soms ten koste van sy eie gesondheid. Ek gaan hom – soos vele ander – vreeslik mis. As ek vir hom ’n grafskrif sou kon nalaat, sou dit die woorde van Charles Dickens wees, uit ’n A tale of two cities:
I see a beautiful city and a brilliant people rising from this abyss.
I see the lives, for which I lay down my life, peaceful, useful, prosperous and happy.
I see that I hold a sanctuary in their hearts, and in the hearts of their descendants, generations hence.
It is a far, far better thing that I do, than I have ever done; it is a far, far better rest that I go to than I have ever known.
Mag hy (in Olga Kirsch se woorde) in die onuitroeilikheid van God rus.
Andries Gideon van Aarde:
25 April 1951 – 25 November 2024
(Prof Tanya van Wyk is hoof van Departement Sistematiese en Historiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria en predikant by die Nederlandssprekende Gemeente in Johannesburg)
