Is verkiesings nog sinvol? Wie baat daarby?
Die verkiesingseisoen wêreldwyd is op 19 Mei ingelui deur die Dominikaanse Republiek wat die gordyn oopgetrek het op ’n reeks verkiesings wat in November ten einde sal loop met verkiesings in Namibië en Botswana. Gedurende hierdie sewe-maande-periode sal uiteindelik 64 algemene verkiesings in soewereine jurisdiksies plaasvind.
Dit sluit presidentsverkiesings uit wat meer eweredig deur die loop van die jaar versprei is in lande waar algemene en presidentsverkiesings geskei is. Seker die beste voorbeeld van die impak van aparte presidentsverkiesings is Rusland waar ’n “vertoonverkiesing” op 17 Maart plaasgevind het sodat Mnr Poetin ’n mandaat kon toon om vir ’n sesde termyn in die stoel te bly.
Verkiesings in Afrika het begin met Madagaskar en Suid-Afrika wat op dieselfde dag gestem het. Die seisoen word afgesluit met Namibië en Botswana wat die gordyn laat sak in November.
Verkiesings is duur en vereis enorme logistiek en organisasie. Indien ’n land nie oor die finansiële vermoë beskik om ’n verkiesing ordentlik af te handel nie, word die uitslag dikwels in twyfel getrek. Verkiesings is ook gewilde teikens om gekaap te word, juis omdat die beloning, nadat ’n politieke groep eenmaal beheer verkry het oor die staat se finansies, so geweldig groot is. Indien ’n land nie funksionele en funksionerende strukture in plek het om die mag van politieke groepe te beperk nie, volg noodwendig ’n fase van uitbuiting, selfverryking, en onderdrukking van enige ander menings en vryspraak.
As gelowiges in ’n wêreld wat ons nie altyd kan kleinkry nie, is dit aan die een kant bemoedigend dat soveel lande deel is van hierdie jaar se verkiesingseisoen. ’n Mens kan amper sê dat dit in ’n sekere mate gerusstellend is dat amper die helfte van die wêreld se bevolking in een spesifieke jaar deur dieselfde proses gaan. Aan die ander kant onderstreep dit net die gevoel van futiliteit wat so baie van ons ervaar en kan ’n mens nie help om te wonder nie of daardie ander amper viermiljard mense ook so uitgelewer is aan magte ver groter as hul eie bestaanskring.
As ’n voorbeeld wil ek Suid-Soedan aan u voorhou. Dit is ’n land wat met groot fanfare ontstaan het toe die voormalige Soedan, die grootste land in Afrika, verdeel is in ’n poging om vrede op grondvlak tussen Christene en Moslems te bewerkstellig. Aanvanklik was dit doeltreffend, uitgesonderd ’n enkele marginale gebied op die grens tussen die twee Soedans, maar later het dit in ’n klug ontaard toe militante Moslemgroepe al meer en meer aanvalle en ontvoerings geloods het teen landelike gemeenskappe.
Die uiteinde was dat Suid-Soedan sedert 2022 in ’n burgeroorlog gewikkel is wat ongeveer ’n jaar gelede oorgespoel het na Soedan (die noordelike buurman) en wat nou stabiliteit in die hele gebied bedreig. Die grootste ironie is dat Suid-Soedan veronderstel is om hierdie jaar ’n algemene verkiesing te hou, wat waarskynlik nie sal plaasvind nie, met geen aanduiding wanneer toestande so sal normaliseer dat ’n demokratiese stemming wel moontlik is nie.
Kyk ’n mens so na die gewoel in die res van die wêreld rondom verkiesings, dan stem dit ’n mens tot mismoedigheid. Is die mensdom dan so verdoem dat almal, regverdiges en goddeloses, bestem is vir ’n bestaan van stryd en konflik?
Vir ons van besondere belang is dat so ’n ineengepropte verkiesingseisoen ons eie situasie in duidelike perspektief plaas. Skielik is ons gebroke politieke sisteem nie meer so wêreldvreemd nie en kom ons tot die besef dat die Satan orals in die wêreld natuurlike verskille tussen mense uitbuit om so die koninkryk van God te ondermyn.
Dit word byvoorbeeld ook duidelik gedemonstreer in die verkiesings wat vroeg in November in die Verenigde State gaan plaasvind. Lanklaas was die Amerikaanse volk so uiteengejaag in twee opponerende kampe. Wat verder belangrik is, is dat die uitslag van hierdie verkiesing ’n baie groter impak op ons lewe gaan hê as net die kwessie of riool in die strate afloop.
In ons daaglikse bestaan is ons blootgestel aan die sigbare tekens van ’n verkrummelende staat, te wete beurtkrag, waterskaarste, voedselnood, gebroke infrastruktuur, korrupsie, opstande, en gesondheidsorg en skoolopvoeding wat direk geraak word deur al hierdie negatiewe aspekte.
Maar wat in Amerika gebeur, raak die wêreld se ekonomie en meer spesifiek rentekoerse. Sonder om dit te oorvereenvoudig, kan ons aanvaar dat ’n Trump-oorwinning vinnig tot laer rentekoerse sal lei, maar dat ons heelwat langer uitgelewer gaan wees aan hoë rentekoerse as die Demorate aan bewind bly. Dit mag dalk nie aardskuddend wees nie, maar die vlak van rentekoerse wêreldwyd is direk afhanklik van rentekoerse in die VSA, en voordat daar ’n politieke skuif plaasvind, is ons hoop op beduidende renteverligting skraal.
Ten slotte is die vraag: Waar vind ’n mens vertroosting om die politieke mismoedigheid die hoof te kan bied? In hierdie opsig wil ek nie in niksseggende clichés verval nie, maar dit tog op elkeen se hart druk dat lidmaatskap van ’n geloofsgemeenskap ’n doeltreffende meganisme bied om die aanslae van ’n polities verdraaide wêreld die hoof te bied.
Wat beteken dit in alledaagse taal? Eenvoudig dit: Jou verbondenheid met jou kerk verskaf aan jou ’n mondering wat gedra word deur die geloof in jou Verlosser en wat gedeel word deur almal wat saam met jou lidmate is en wat saam met jou glo. As ons mekaar se probleme deel, is dit alreeds effe makliker om daardie probleme te oorkom.
(Ds Daniel Steinmann is redakteur van Namibia Economist en leraar in Gemeente Windhoek)