Wanneer ’n predikant ’n beroep na ’n gemeente aanvaar, verhuis die predikant en sy gesin na ’n nuwe omgewing en gemeenskap. Dit is sekerlik so met enige gesin wat besluit om te verhuis. Maar wat die pastoriegesin so anders maak, is dat predikante en hul gesinne outomaties in die kollig is omdat hulle leiers in die gemeente asook in die gemeenskap is.
Die gemeente en gemeenskap verwag dat dominee, mevrou en dominee se kinders, en selfs dominee se troeteldiere onbesproke voorbeelde en outomatiese leiers behoort te wees. Dominee se vrou moet by elke erediens wees en natuurlik ook alle funksies help organiseer en bywoon. Die predikant se vrou, kinders en alles wat hulle het, word onder ’n vergrootglas geplaas en alles wat in die pastoriegesin se lewe aangaan, word raakgesien.
Wanneer ’n gemeente ’n nuwe predikant beroep, is die pastoriegesinnetjie vir mense in die gemeente en gemeenskap soos ’n nuwe speelding. Die gesin word genooi na verskeie kuieraande en die pastorie se drumpel word deurgetrap. Elke dag staan daar ’n ander besoeker se motor voor die pastorie. Mevrou-dominee word genooi na elke damesgroep se teedrinkgeselligheid en die pastoriekinders na alle kinderpartytjies. Die hele gemeente is daar wanneer die nuwe inwoners van die pastorie verjaar en die groot eetkamertafel kreun onder al die gebak vir die besoekers!
Mettertyd kom mense agter dat mevrou-dominee ’n werkende vrou is, en die pastoriepaar kan ook nie Saterdagaande rondkuier nie want dominee werk aan sy laaste voorbereiding vir Sondag se eredienste. Die gemeente raak die pastoriegesin gewoond en besoeke en uitnodigings raak al hoe minder totdat dit later heeltemal opdroog. Ná jare is daar letterlik niemand in die gemeente wat die pastorie meer besoek nie, alhoewel gemeentelede onder die indruk is dat die pastorie se drumpel steeds deurgetrap word.
Daar is baie sêgoed en grappies oor predikante, hul vrouens, kinders, troeteldiere en enigiets wat naastenby aan predikante gekoppel is. Jare gelede het ek ’n muurbehangsel as gekenk gekry met die woorde: Vra die dominee se vrou want sy weet alles. Almal wat die pastorie betree het, het die muurbehangsel raakgesien en lekker daaroor gelag. Die woorde het eers na baie jare se ervaring in die pastorie begin sin maak. Dit het ook die waarheid onthul van die hoë eise wat maklik aan die dominee se vrou gestel word.
Na baie jare in die pastorie is dit duidelik dat die muurbehangsel wat lees Vra die dominee se vrou want sy weet alles nie as ’n opdrag aan gemeentelede geskryf is nie. Dit is ’n sarkastiese stelling. Die meeste gemeentelede dink dat die dominee se vrou alles weet wat in die gemeente aangaan, maar baie van hulle verwag ook dat sy alles moet weet. Vir ’n jong predikantsvroutjie kan hierdie verwagting oorweldigend wees.
Almal lag gewoonlik lekker saam oor al die goed wat van die pastoriemense gesê word, maar die pastoriemense is eintlik net gewone mense. Dominee wil ook soms ’n vuurtjie maak en vleis braai. Dominee en sy vrou hou dalk ook van ’n glasie rooiwyn en wil ook saam met vriende rugby kyk of om ’n tafel sit en kuier tot laat. Die waarheid is dat hulle in werklikheid ’n baie eensame lewe het. Soos wat die jare aanstap, raak almal die muurbehangsel in die pastorie gewoond en dit word nie meer opgemerk nie. Net so raak die gemeente hul dominee en sy vrou ook gewoond en gee nie meer persoonlike aandag aan hulle nie.
Predikante se vrouens het nie studeer om hierdie spesiale rol te vervul nie. Daar is ook nie ’n handboek wat hulle bemagtig nie. Hulle is gereeld in die warm water oor iets wat hulle nie reg hanteer het nie of omdat hulle nie genoeg gedoen het nie, of dalk selfs te veel gedoen het. Predikantsvroue het ondersteuning nodig om die rol van predikantsvrou na wense te vervul. Die meeste predikantsvroue is nie baasbaksters, sangers en alles wat van hulle verwag word nie. Hulle het die ondersteuning nodig van die gemeente se baasbaksters, koorsangers en die ander bekwaamhede van gemeentelede.
Sulke ondersteuning kan die predikant se vrou baie help om haar rol te vervul, maar wat sy die nodigste het, is vriendinne. Jou predikant se vrou het vriendinne nodig om mee te gesels oor haar kinders wat haar trots of bekommerd laat voel, om te skinder oor die skoonfamilie en haar man wat haar soms teen die mure uitdryf. Sy het iemand nodig om mee saam te gaan koffie drink en wat sommer net luister. Wees jou predikantsvrou se vriendin – hulle is mense net soos ek en jy.
*** Hierdie artikel handel spesifiek oor predikantsvroue. Die belewenisse van die mans van ons vrouepredikante is natuurlik ’n heel ander aspek wat ook stof tot nadenke kan wees!
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)