Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. (Matteus 2: 11)

Lees Matteus 2: 1-12

Daar kom ’n tyd in ’n jaar (meestal Oktober of November) wanneer menige YouTube-video jou deeglik daaraan herinner dat dit tyd is om jou huis op te knap vir Kersfees. Dit is tyd vir die Kersboomversierings met duur ingevoerde linte, liggies, en dan natuurlik die toedraaistasie wat jy moet inrig om daardie perfekte geskenk toe te draai en op sy weg te stuur… Om nie eens te praat van die kaartjies nie. Hulle moet versier word met sagte en mooi Kersliggies, hondjies met klokkies, wyse manne wat vriendelik en sag lyk…

Kersfees. Sag, mooi, vrolik, vol glimlagte?

Baba-Jesus, in die nag, in ’n herberg (wie weet waar), in ’n krip tussen diere, met ’n ma wat nog ’n wolk oor haar kop het oor die “ongelukkie”.

Die huidige Desember/Januarie met onmoontlike hoë selfdoodsyfers, Ongevalleafdelings en padsterftes op die paaie wat predikante laat terugjaag binneland toe vir ondersteuning en begrafnisdienste.

Ons wêreld en Jesus se wêreld… Ewe verward, ewe hard, ewe donker en ewe vol kontraste.

Maar dan kom daar diegene wat die spreekwoordelike ster in die nag bring. Diegene wat die wêreld met sy verwardheid aanpak, en vir die een wat nie meer weet waarheen om te draai nie, ’n plekkie maak om ook te behoort. Ek eer hiermee al die alledaagse helde!

Op die oomblik is daar in ons gemeente ’n baba in die neonatale intensiewesorgeenheid. Die familie hoop en bid om die pienkvoet vir Kersfees by die huis te hê. Is enige toedraaistasie of perfekte geskenk nodig vir hulle vanjaar? Of is hul gunstelingmense die susters wat dag en nag Baba se beskermengel is?

Of daardie familie wie se familiefoto dié jaar die laaste keer gaan wees wanneer almal op die foto nog saam kan lag en kuier. Is enige geskenk meer kosbaar as daardie laaste kuier?

Of daardie persoon wat die einde van die jaar nader, dalk van werk verander, moet trek. Hierdie nuwe jaar bring nuwe onsekerhede en spanning mee. Is die mooiste geskenk nie dalk net ’n vriendelike glimlag van ’n vreemdeling of iemand wat geduldig in die verkeer is, as jou kop op ander plekke is nie?

Dan kom die beeld van die ryk wyse manne (fortuinvertellers) met hul duur geskenke, wat in eenvoud op hul knieë val voor die Here, voor ons oë. Hulle kom om besondere, duur geskenke te bring, maar hulle is dié wat wegstap met die Geskenk wat geen geld ooit kan koop nie.

Daardie geskenk het elkeen van ons al kom sien. Veral dié wat die lewe vir almal rondom hulle kan toedraai. Hulle is diegene wat vir jou die grootste geskenk van jou lewe kan gee. Die alledaagse helde wat ons dissipels noem. Dissipels wat vir mekaar kan bid, kan omgee, en hulself vir ander kan gee.

Daardie dissipel is jy…

Share via
Copy link
Powered by Social Snap