In die konsistorie van Gemeente Groot Marico hang ’n ou swart-wit foto. Dit is die foto van die vertalers van die 1933-vertaling van die Bybel. Dit hang daar omdat dr HCM Fourie, medevertaler van die 1933-vertaling, leraar van Groot Marico was toe hy aan die vertaling meegewerk het.

Ek het baiemaal op ’n klip langs die Driefontein-spruit wat agter die kerk verbyloop gesit en wonder waar hy gesit het toe hy, volgens oorvertelling, gesukkel het met dele van die vertaling en in God se natuur inspirasie gaan soek het. Ek het gewonder of hy uit dieselfde rotsformasies en rustigheid van die kabbelende stroompie  inspirasie geput het. Want die eindresultaat van hul werk was die Bybel in ons eie taal! ’n Ongelooflike voorreg wat my grootouers gehad het om vir die eerste keer die Bybel in hul eie taal te kon lees.

Op die voorblad van hierdie uitgawe is daar ook ’n foto van Bybelvertalers, hierdie keer in kleur. Mense wat met dieselfde passie en met absolute noukeurigheid meegewerk het aan die vertaling van die Bybel. Wanneer ek na die foto kyk, beleef ek dieselfde vlak van opgewondenheid. Hoe wonderlik, ons gaan weer met ’n nuwe direkte vertaling van die grondteks in ons hande sit, maar hierdie keer in ’n Afrikaans wat ook kindertjies kan verstaan.

Vir my is die nuwe Bybelvertaling die kroon, die hoogtepunt van ’n baie vreemde en uitdagende jaar. ’n Hoogtepunt, en met reg ook, want die hoogtepunt kan nie ’n virus of inperking of werk van die huis af of Zoom-vergaderings wees nie. Ook kan die hoogtepunt nie in ’n stukkende ekonomie of ’n konfrontasie in die strate van ’n Vrystaatse dorpie wees nie. Nee, gelukkig is die hoogtepunt van hierdie jaar ’n vars vertaling van die Bybel in ons eie taal. Dank die Here vir hierdie voorreg.

En tog sou ek nie anders kon nie as om in hierdie laaste uitgawe van 2020, die eerste in maande wat ons weer kon druk, tog iets van hierdie jaar te deel. Hoe kan ek hierdie jaar opsom? Die skoolhoof by ons plaaslike hoërskool sê altyd Sjoe! Dalk is dit al hoe ’n mens hierdie jaar kan opsom. Sjoe! Ons moes leer hoe om voor ’n kamera of jou selfoon te sit en preek. Om kerk te wees sonder om kerk toe te gaan. Virtuele vergaderings het alledaags geraak. Ons kinders is op skool en universiteit met afstandonderrig geleer. Ons kinders het al om die tweede dag skool gehad. My seun het dit mooi opgesom: Elke tweede dag is ek af en elke naweek is ’n langnaweek. Maar die spanning wat dit op onderwysers en kinders geplaas het, is geweldig groot. My hart gaan uit na die matrieks van 2020 wat van hul matriekjaar beroof is.

Ons moes by Die Hervormer ook aanpas toe eredienste in kerkgeboue verbode was. Ons het ’n klompie uitgawes elektronies uitgegee. Op die middelblad is daar uittreksels van die artikels wat elektronies gepubliseer is. Puik artikels, aktueel! Die redaksie het besluit om nie soos die redaksie tydens die Tweede Wêreldoorlog die werklikheid te ontken nie, maar om te midde van die werklikheid oor aktuele sake met die Kerk te kommunikeer. Ons het egter tot die besef gekom dat ons lesers nog nie reg is vir ’n elektroniese weergawe van Die Hervormer nie en dat die koerant in die hand steeds baie se voorkeur is. Statistieke toon dat bitter min mense Die Hervormer elektronies gelees het. Hierdie jaar en die finansiële tsoenami wat op so ’n jaar volg, gaan ons dwing om anders te dink, anders te doen, maar ek hoop dat ons op die een of ander manier steeds ’n gedrukte Hervormer in die hande van ons lidmate kan sit. Net die tyd sal leer…

En hier is ons aan die einde van hierdie jaar. Mag die Here die res van hierdie jaar vir julle seën en mag julle die oorvloed van sy liefde en genade beleef. Mag die geboortefees van ons Verlosser vir julle besonders wees, en mag 2021 vir julle net alles wat mooi is inhou.

Een van my gunstelingliedere is VONKK 72. Ek deel dit graag met julle as bede vir die res van hierdie jaar en volgende jaar:

Wees stil, want die Heilige is hier
in ons teenwoordigheid.
Kom buig nou voor Hom neer
met eerbied en ontsag.
Erken sy heiligheid
en sy geregtigheid.
Wees stil, want die Heilige is hier
in ons teenwoordigheid.

Wees stil, want die heerlikheid van God
skyn oral rondom ons.
Hy is met eer gekroon,
met mag en majesteit.
Uit Hom straal helder lig –
’n glans wat als verlig.Wees stil, want die heerlikheid van God
skyn oral rondom ons.

Wees stil, want die Here God van mag
is werksaam om ons heen.
Hy neem ons sonde weg,
genees ons grootste seer.
Niks stuit die Gees se werk
of kan sy krag beperk.
Wees stil, want die Here God van mag
is werksaam om ons heen.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap