Mej Sanet du Plessis het op Donderdag 2 Mei by die Sinodale Dienssentrum as Taalversorger/Produksiebestuurder diens aanvaar. Sy volg mev Tessa Oppermann op wat sedert 15 Maart 2004 by die destydse SENTIK, nou die Afdeling Kerklike Kommunikasie, in diens is. Mev Oppermann het in 2020 amptelik afgetree, maar is intussen op kontrakbasis in diens gehou. Sy sal tot einde Oktober vanjaar in diens bly om bepaalde take oor te dra of af te handel, en veral mee te werk aan 2025 se Almanak. Ons heet Sanet hartlik welkom by die NHKA se kommunikasiespan, en stel haar met ’n paar vrae aan ons lesers bekend.
DH: Sanet, jy het van 1994 tot 1999 aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) studeer en BA Algemeen (Afrikaans en Politieke Studies) en ’n Honneurs- en MA-graad in Afrikaans verwerf. Jy het egter van 2000 tot 2015 in die dekor- en meubelbedryf gewerk. Dis ’n interessante loopbaankeuse! Hoe het dit gebeur?
SdP: Dit was eintlik veronderstel om ’n korttermynoplossing vir ’n afgestudeerde student te wees, maar dit het toe ’n loopbaan van amper 15 jaar geword. Teen 2000 was werk vir iemand met ’n graad in Afrikaans maar skraps. Die geleentheid om ’n winkelbestuurder by ’n Biggie Best-tak in Boksburg te word, het my pad gekruis. Ek was nog altyd lief vir naaldwerk en kon sodoende ’n salaris verdien in ’n omgewing waar ek tuis voel. My paaie het later na die meubelbedryf uitgewyk, spesifiek houtmeubels. Ek het grootgeword met ’n pa wat houtwerk gedoen het en ek het ure saam met hom tussen saagsels en houtstof deurgebring. Die reuk van houtstof is dus sinoniem met goeie herinneringe. My tyd by Studio Blue en Pierre Cronje was dus weer eens in ’n omgewing wat my na aan die hart gelê het.
DH: Van 2014 tot 2023 was jy voltydse dosent en/of onafhanklike kontrakteur aan verskeie instansies om Afrikaans te doseer. Was dit altyd jou bedoeling om uiteindelik by taalpraktisynswerk uit te kom?
SdP: Ek moet erken dat ek as student nooit ’n spesifieke loopbaan in gedagte gehad het nie. Ek het my hoofvakke gekies uit liefde en belangstelling. My ideaal was en is steeds om werk te doen wat ek geniet en wat tot voordeel van my taal is. Tydens my tydperk as dosent wou ek die stereotiepe beeld van Afrikaans by studente verander. Die meeste van my studente se kennis van Afrikaans was uiters beperk en hulle het nie werklik ’n keuse gehad of hulle Afrikaans as vak wou neem of nie. Na amper tien jaar was dit weer tyd vir ’n volgende uitdaging, en nou is dit taalversorging. Tot ’n mate kan ek seker maar erken dat ek ’n ongeorganiseerde loopbaan het.
DH: Sedert November 2022 was jy subredakteur by Plaas Media. Vertel ons ’n bietjie wat Plaas Media doen en waarby jy alles betrokke was.
SdP: Plaas Media fokus op die landboubedryf en in verskeie vorms van media: tydskrifte (tegnies, wetenskaplik en semi-wetenskaplik), radio (RSG Landbou), aanlyn en sosiale media, asook produksies. Die hoofkantoor is in Centurion met verskeie streekverteenwoordigers wat die hele Suid-Afrika en Namibië dek. Die maatskappy is verder betrokke by geleenthede soos die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie, Toyota SA Jong Afslaerskompetisie, en ook die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur. Ek was betrokke as subredakteur vir die tydskrifte Veeplaas en Dié Rooi Ras en moes dus vinnig meer leer oor Bonsmara-beeste, Dorper-skape, kuilvoer en nog vele meer.
DH: Jy is ’n Hervormer. Wat het jou laat besluit om vir die pos by die Sinodale Dienssentrum aansoek te doen?
SdP: Dit was ’n geleentheid om dit waarvoor ek lief is, saam met die mense en die Kerk waarvoor ek lief is, te doen.
DH: Soms word van taalversorgers verwag om puristies te wees en spesifieke taalreëls nougeset na te kom – ten spyte van wisselvorms, verskillende kontekste en style, ensovoorts. Wat is jou mening hieroor?
SdP: Ek is ’n voorstander van wisselvorme en voel dit gee juis ons taal sy unieke geur. In terme van ’n publikasie is dit wel nodig om konsekwent te bly en by ’n spesifieke styl en vorm te hou.
DH: In die NHKA kry ons te doen met hoogs akademiese tekste, populêr-wetenskaplike werk, en meer algemeen toeganklike skryfstyle. Sal dit vir jou maklik wees om tussen dié verskillende style te beweeg?
SdP: Dit is ’n definitiewe uitdaging, derhalwe dink ek die geheim is net om die verskillende style te sien as die kamers van ’n huis. Elkeen is verskillend, maar tog onder dieselfde dak.
DH: Soms kry ons kommentaar van lesers oor die versorging van ons tekste. Sommige reken ons pas taalreëls nie streng genoeg toe nie: Reëls wat ons nog op skool geleer het, soos dat ’n sin nooit met En of Maar moet begin nie, geen komma voor en, verpligte punte by afkortings, ensovoorts – reëls wat lank reeds minder streng toegepas word, met wisselvorme en inagneming van kontekste. Hoe sal jy op sulke besware reageer?
SdP: Dit is noodsaaklik om altyd diplomaties te wees. Luister mooi na die klagte en reageer eers nadat jy koffie gaan maak het. Ons moet onthou dat Afrikaans steeds ’n taal is wat groei en dus verander ons taalreëls gedurig, en ons moet saam met die reëls verander. Daar is ’n paar van die nuwe reëls wat vir my ook vreemd voel, maar die Taalkommissie het lank daaroor besin. Lesers moet besef dat elke publikasie ’n sekere styl het en soms moet die reëls so ’n bietjie gebuig word om lees te vergemaklik.
DH: Die feit dat ons vandag nie meer voltyds in ’n amptelike kantoor sit nie en dikwels alleen en in ons persoonlike ruimtes werk, het ’n besliste uitwerking op sosiale verbintenisse. Sien jy dié hibridiese werkwyse enigsins as ’n probleem?
SdP: Daar is voor- en nadele aan die stelsel. Ek loop beslis die geleentheid mis om my nuwe kollegas beter te leer ken, maar gelukkig is daar steeds geleenthede om mekaar te sien. Die geheim is net om ’n definitiewe poging aan te wend om kontak te maak. Ek weet ek is enige tyd welkom om te gaan koffie drink by die Sinodale Dienssentrum, of om kollegas iewers vir ’n werksessie te ontmoet.
DH: ’n Paar blitsvrae:
Jou gunstelingboek en/of skrywer? Deon Meyer.
Gunstelingfilm? Silence. Hierdie is ’n uiters donker film, maar dit het my net weer laat besef watter voordeel dit is om in ’n land te woon waar ek vry is om my geloof uit te leef.
Gunstelingvakansieplek? Ek het ’n voorliefde vir klein, afgesonderde plekke met slegte selfoonsein. Die Karoo is dus hoog op my lys, maar my absolute gunstelingplek om myself weer te vind, is die Sederberge.